Verlede maand
Sepieman wil skills deel
VOL AMBISIE: Dann-Jacques Mouton is terug in die Kaap.  ~ Salmon Smith

BAIE menses sal hom ken as Justin Booysen van 7 de Laan en sommige fliekliefhebbers sal hom onthou as “Skollie”.

Maar ondanks sy groot talent as akteur is Dann-Jacques Mouton (34) ’n outjie met albei sy voete plat op die grond, nevermind dat hy al vier plaaslike films agter sy naam het: Noem My Skollie, Abraham, Tess en Thys en Trix.

Sy karakter, Justin, gaan egter dié maand nog 7 de Laan verlaat. Dann-Jacques is reeds terug in Kaap – om terug te ploeg in die gemeenskappe.

Enkelouer

Hy en die musikant Durane Plaatjies, oftewel D.O.E.P, gaan nou saamspan in ’n projek om die jeug te uplift.

Maar eers ’n vinnige kykie na Mouton se lewe ...

Hy is gebore in Windhoek, maar het in Eersterivier grootgeword. Hy kom uit ’n gebroke huishouding; sy moeder was ’n enkelouer.

Vir Mouton se eerste opvoering by ’n konsert, by Helderkruin Primêr in Kleinvlei, het hy die destydse Sasol-advertensie van Desmond Dube gedoen.

Mouton was later in Wynberg Sekondêr, wat op kuns fokus. Hier het hy drama as vak gehad.

“Destyds, as kind, was ek lief vir movies. Dan wou ek sommer daai spesifieke karakter wees,” vertel Mouton.

“Ek het toe al daai tyd vir myself gesê dít is wat ek wil doen.

“Gedurende my hoërskooljare het ek die eerste keer kennis gemaak met die teater. Ons het baie plays gedoen en by school festivals opgetree.

“In 2003 het ek by die Namakwaland-kunstefees my eerste award gewen vir most promising actor.”

PASSIE VIR JEUG: Die akteur en die rapper Durane Plaatjies werk saam aan ’n program vir die jong mense. Foto: Salmon Smith

In 2006, nadat Mouton gematrikuleer het, het hy by die destydse New Africa Theatre Academy in Athlone ’n oorbruggingskursus in vocal train­ing, movement en acting styles gedoen.

Daarna het hy aan UCT ’n performance-diploma in teater verwerf.

In 2016 het hy by 7 de Laan betrokke geraak.

Nóú is hy gereed om sy ondervinding te deel.

“Jy sien, ons gemeenskappe het nie altyd toegang tot drama-opleiding nie. Dit is hoekom ek my vir youth upliftment beskikbaar wil stel.

Skoene

“Ek wil workshops aanbied om die jeug bekend te stel aan die verskillende maniere waarop jy jou liggaam kan gebruik om jou storie te vertel. Drama het my empower.

“Acting is vir my baie terapeuties. Voordat jy ’n goeie actor kan wees, moet jy jouself ken en weet waarvandaan jy kom. Dán kan jy iemand anders se skoene aantrek om ’n rol te vertolk.

“Daar is nog baie rou talent in ons gemeenskappe wat ontgin moet word. Ons wil by skole omgaan. Ons gaan baie rondbeweeg in ons gemeenskappe, op plase en op die platteland.

“My en Durane se projek het nog nie ’n naam nie en daar is ook nog nie ’n vaste datum wanneer ons daarmee gaan begin nie, want die lockdown sit alles op hold.

“Maar ons glo dit sal ’n sukses wees.”

Vir nog info, bel Durane by 074 807 0589.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters