2 maande gelede
Schemers in Skemer
oppie kassie: Skemerdans begin môreaand 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).foto’S verskaf  ~ 

AS JY nog nie dié puik neo-noir-moordraaisel van die Kaapse Vlakte op Showmax te kyk nie, dan kan jy Skemerdans van môreaand 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) te siene kry.

Die misdaaddrama speel hom af by die Oasis jazz club, die middelpunt van ’n magstryd tussen twee broers, ’n woedende weduwee en ’n misdaadsindikaat.

Amy Jephta, die briljante filmmaker van Mitchells Plain, en haar mederegisseur, die Paarlse boorling Ephraim Gordon, sê hulle wou ’n vars blik bied op Kaapstad met die vervaardiging van die reeks Skemerdans.

Anders

“Ons wou iets skep wat anders voel as enige Suid-Afrikaanse reeks wat ons tot dusver gesien het,” verduidelik Amy.

Ephraim voeg by: “Hoe ons Kaapstad en haar mense uitbeeld, was vir ons belangrik. Niemand in die reeks is brandarm nie.

“Hulle is miskien nie almal middelklas nie, maar die besluite wat hulle moet maak, is nie oor brood-en-botter-kwessies nie.

“Dit is belangrik om mense op die Kaapse Vlakte ook in daardie lig te sien – waar dit nie altyd ’n geveg om oorlewing en ’n geveg vir jou volgende maaltyd is nie.

“Daar is waardigheid in dit.”

Die sterbelaaide rol­verdeling van Skemerdans sluit in Kevin Smith, Brendon Daniels, die Safta-benoemde Vinette Ebrahim, Carmen Maarman, Trudy van Rooy, Sanda Shandu en Mbulelo Grootboom.

Carl Weber, Kim Syster, Bongo Mbutuma, Danny Ross, en Ceagan Arendse (Suidooster, Arendsvlei), wat in Februarie 2021 tragies gesterf het, speel ook in Skemerdans.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters