16 dae gelede
Sanger se nuutste single ’n eerste vir hom
NUWE TUNES: Maxim Brown het weer onlangs ’n single uitgereik.  ~ Foto Verskaf

’N SONG met ’n reggae vibe.

Dis hoe die sanger Maxim Brown sy nuutste enkelsnit, “Where Did We Go Wrong?”, beskryf. Hierdie liedjie is ’n eerste van sy soort vir hom aangesien Maxim, met sy diep Barry White-tipe stem, eintlik meer van ’n soul- en R&B-sanger is.

Maxim is in die Oos-Kaap gebore, maar woon reeds die afgelope 15 jaar op die Spaanse eiland Lanzarote. Hy is gewild vir sy optredes in die hotelbedryf.

Hy spog dat hy deesdae baie beter Spaans kan praat as toe hy in 2006 daar in die vreemde geland het.

Maxim vertel hy droom al van jongs af om sy eie musiek op te neem.

“ ’n Ware sanger kan nie jaar in en jaar uit net cover versions doen nie,” sê hy.

“Al kom jy ook uit die Oos-Kaap, kan jy jou eie liedjies skryf en opneem. Jy moet ’n legacy agterlaat vir die dag wanneer jy nie meer daar is nie.”

Geleentheid

In 2014 het Maxim “There’s a Change In Me” die lig laat sien. Daarna het nog oorspronklikes soos “You Belong to Me”, “If We Try Again” en “Baby I Love Your Way” gevolg. Sy boodskap aan die jeug is dat hulle nooit ’n gegewe perd in die bek moet kyk nie.

“As ’n deur oopgaan en jy kry die geleentheid om jou droom uit te leef, moet jy dit met albei hande aangryp.”

Die musiekvideo vir sy nuutste single is op YouTube beskikbaar. Al sy ander songs kan op digitale aanlynplatforms afgelaai word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters