10 dae gelede
SA maak moves
Given Stuurman
INSPIRASIE: Zazi Kunene en Given Stuurman speel in die Suid-Afrikaanse dansreeks JIVA!  ~ Foto Verskaf

JIVA! het al die regte moves!

Netflix het dié week ’n opwindende trailer gelaunch vir dié nuwe reeks wat deur Suid-Afrika se kleurryke jeug geïnspireer is.

Die dansreeks handel oor Ntombi, ’n straatdanser wat gespeel word deur Noxolo Dlamini.

Sy laat niks in haar pad staan om haar drome waar te maak om ’n danskompetisie te wen nie.

Sy is van die township Umlazi in Durban.

Ntombi sit vas in ’n vrot werk sonder enige vooruitsigte. Sy kan ook nie uit nie, want met dié werk moet sy sorg vir haar gesin.

In haar stryd om te oorleef, kom sy af op ’n danskompetisie wat al haar probleme kan oplos, aangesien die kontantprys ’n yslike R1 miljoen is.

Maar voordat dít kan gebeur, moet sy leer hoe om ’n storm in haar lewe te kalmeer.

Noxolo sê hierdie reeks vertel ’n inspirerende storie.

“JIVA! is ’n storie van vryheid om jou drome te volg.

Trots

“Suid-Afrika, hierdie is ons geskenk aan jou en die wêreld. Ons hoop ons kan mense inspireer én vermaak.

“Mzansi, mag ons jou trots maak,” sê die aktrise opgewonde.

Die briljante Suid-Afrikaanse choreograaf Bontle Modiselle het seker gemaak dat die reeks al die regte dans-moves bring.

“Met die uitreiking van JIVA! is ek vol senuwees en terselfdertyd vol opwinding en afwagting.

“Daar is baie kultuur, kreatiwiteit, dans en stories in JIVA! en om te sien hoe uitmuntendheid in Afrika op so ’n globale verhoog gevier word is ongelooflik. Ek kan nie wag dat die wêreld dit sien nie. Wêreld, dis ons dié!”

Dink jou in, ons lewendige en diverse Suid-Afrikaanse danskultuur in een reeks. Dié gedagte sit beslis ’n glimlag op my gesig en daarom sien ek uit na die reeks wat op 24 Junie op Netflix beskikbaar gaan wees.

Gaan check solank die trailer van die JIVA! op ons digitale platforms uit!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters