19 dae gelede
SA dokkie wen Oscar in Amerika
Wen groot: In die dokkie bou die Suid-Afrikaner Craig Foster ’n vriendskap met ’n seekat.  ~ Verskaf

GELUK, Suid-Afrika!

Ons kan nou spog met ons eerste Oscar vir ’n dokkie.

Die briljante My Octopus Teacher het in die kategorie vir die beste dokumentêre film gewen.

Dié Netflix Original is deur Pippa Ehrlich en James Reed geskep. Dit volg die jaar lange reis van die Suid-Afrikaanse filmmaker Craig Foster, wat ’n verhouding met ’n seekat in die dieptes van ’n seewierwoud aanknoop. Die hele dokumentêr speel hom in Valsbaai af.

Die regisseurs James en Pippa het Sondagaand op die 93ste Academy Awards-seremonie in Los Angeles, Amerika, hul Oscar aanvaar. In Suid-Afrika se tydsone het dit vroeg Maandagoggend plaasgevind.

Die duo was dankbaar dat hulle die dokkie hier in ons land kon skiet.

“Ons weet daar is baie Suid-Afrikaners wat nou in die middel van die nag ­wakker is om dié seremonie te kyk. Op ’n manier is hierdie ’n klein, persoonlike storie wat hom in ’n seewierwoud aan die suidpunt van Afrika afspeel.

“Maar op ’n ander level hoop ek dat dit mense meer insig oor die verskil­lende soorte verhoudings ­tussen mense en die natuurlike wêreld sal gee.”

Hulle het Craig ook bedank vir die rol wat hy gespeel het: “ Hoewel ’n enorme span dié dokkie ’n werklikheid gemaak het, het dit by hom begin en by hom geëindig.

“Dit is sy storie en hy het ons gewys as hy ’n vriendskap met ’n seekat kan bou, is enigiets moontlik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters