10 dae gelede
Renaldo mik al hoe hoër
Renaldo Schwarp  ~ Foto Verskaf

DIE bekroonde TV-aanbieder, vervaardiger en radio-omroeper Renaldo Schwarp sê hy wil hê luisteraars van die radiostasie OFM moet hul weekaande met ’n glimlag afsluit.

Renaldo is onlangs aangekondig as die nuwe aanbieder van OFM Nights with Renaldo Schwarp, wat weekaande tussen 19:00 en 21:00 uitgesaai word. OFM saai uit in die Noord-Kaap, Vrystaat, Noord-Wes en die Vaaldriehoek.

Die 29-jarige is geen vreemdeling agter die mic nie. Hy het al gewerk by verskeie radiostasies, waaronder CapeTalk, Smile 90.4 FM en meer onlangs Jacaranda FM.

“Radio is deel van my DNA. Ek kan nie wag om my weekaande met die wonderlike mense van die sentrale deel van Suid-Afrika deur te bring nie,” vertel Renaldo.

Renaldo bied ook sommer OFM se Sondagmiddag lunch show van 12:00-16:00 aan.

Oor sy nuwe rol by OFM sê Renaldo hy is verheug oor dié geleentheid wat al sedert sy dae op kampusradio in Stellenbosch in die pyplyn is.

“Die span by OFM verstaan die waarde van familie, pret en feelgood. Ek is opgewonde om deel daarvan te wees.”

TV-kykers sal hom herken as veldaanbieder op kykNET & Kie se Klop! Renaldo is ook die vervaardiger en aanbieder van die bekroonde dokumentêre film Skeef: Die Dokumentêr, wat tans op Showmax te sien is.

Uitgegee

Dié film is internasionaal met groot lof ontvang en het op onder andere die Palm Springs LGBTQ-filmfees in Amerika gedraai.

Skeef: Die Dokumentêr plaas die kollig op LGBTI+-Suid-Afrikaners en hul ervarings.

Renaldo is tans besig om aan sy eerste Afrikaanse boek te skryf. Die boek is ’n selfhelp-memoir wat op sy hoog aangeskrewe dokumentêre film gegrond is. Dit word in September 2021 uitgegee en fokus grootliks op Renaldo se ervaring as gay, Afrikaanse bruin man.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters