10 dae gelede
Reeks oor Nama-meisie gryp aan
INSPIREREND: ’n Jong Nama-meisie moet haar mense in ’n droogte help.  ~ Foto Verskaf

DAAR is ’n pragtige Afrikaanse animasie-webreeks oor ’n Nama-meisietjind wat uitgekies is om haar gemeenskap te lei.

Hierdie innoverende projek is deur Na Aap Productions vervaardig met die ondersteuning van die nasionale kunsteraad en die Program vir Innovasie in Kunsvormontwikkeling (Piko).

Die briljante filmmaker en kultuuraktivis Deidré Jantjies het Stories in die Wind geskryf en sy is ook die verteller in hierdie aangrypende animasie-webreeks.

Die kort reeks, waarvan elke episode minder as vyf minute is, vertel die storie van ’n jong meisietjie van die Nama-gemeenskap in die Richtersveld. Sy is gebore met die gawe om met diere, plante en die reën te kommunikeer.

’n Wyse vrou het geprofeteer oor die koms van die meisie wat met dié spesiale gawe gebore gaan word. Die groot vrou leer die meisiekind hoe om haar gawe te gebruik vir goeie dinge. Die meisie word dan in haar gemeenskap erken en daar word groot drome vir haar toekoms uitgelê.

Tradisie

As daar ’n groot droogte kom, is die Nama-mense lank sonder jobs en water en hulle kyk na die dapper meisie om hulle uit die droogte te help. Dit kom nadat die klein Nama-gemeenskap nie die water waardeer het nie.

Hulle het lank gemors en nie meer die reën gerespekteer soos hulle destyds volgens tradisie gedoen het nie. Dan moet die meisie op ’n journey gaan om Reën te vind en hom te vra om seëninge oor die gemeenskap uit te stort.

Dis regtig ’n baie inspirerende storie en kleintjies kan baie daaruit leer. Stories in die Wind is in Afrikaans, maar dit het Engelse onderskrifte. Dit is tans te sien op Na Aap Productions se amptelike webwerf en hul YouTube-kanaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters