10 dae gelede
Reeks het vele kinkels

PRESIES wat gebeur alles agter geslote deure?

Dís die groot vraag in die nuwe TV-reeks 4 Mure kyk.

Die minireeks is in kykNET se nuwe, korter formaat van vyf episodes, verduidelik die skrywer van die reeks, die uiters talentvolle Tertius Kapp, (Griekwastad, Die Spreeus).

“Die oorspronklike idee was Jaco Bouwer s’n, die regisseur en medeskepper van die reeks.

“Daar was ’n versoek van kykNET om voorstelle te maak vir formate wat ons makliker binne die Covid-19-regulasies kan verfilm.

“So, van die begin af was daar baie beperkings en uitdagings. Ons het toe besluit alles moet binne een vertrek afspeel.”

Gruwels

Die reeks speel hom iewers in Suid-Afrika af en bied losstaande episodes wat elk hul eie storie, karakters en genre het. Die episodes word net verbind deur Marcelina, die kamerskoonmaker wat met haar kop in die wolke lewe.

Sy lei ’n string diverse karakters deur elkeen se persoonlike struwelinge, romanse, gruwels en selfs ’n time warp, en niemand kom ongedeerd daar uit nie ...

Die rol van Marcelina word deur die legendariese aktrise Lida Botha vertolk.

Die uiteenlopende karakters in die storie wissel van ’n sluipmoordenaar tot ’n popster.

Kapp sê hierdie nuwe formaat is propvol aksie.

“Ek hou baie van die kort formaat van vyf episodes,” sê hy. “Alles gebeur natuurlik baie vinnig. Dit plaas groot druk op die teks, veral as mens soveel moontlik kinkels en verrassings in die storielyne wil inprop.”

Die rolverdeling sluit verskeie bekende name in, soos Johan Botha, Beer Adriaanse, Charlton George, Deon Lotz, Tarryn Wyngaard, Tinarie van Wyk-Loots, Wessel Pretorius, Gerwen Weinheimer, Ilse-Lee van Niekerk, Brent Vermeulen, Devonecia Swartz, Melanie du Bois en Carel Nel.

  • Die splinternuwe TV-reeks 4 Mure begin Dinsdag 12 Januarie 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters