12 dae gelede
Radiostasie vier 1ste verjaardag
RADIO EERSTERIVER: Henry Prens, Joshua Kinnear, Jurien Bruintjies, Ruthven Malakasa, Jade Bruintjies en Brandon Fisher bereik ’n mylpaal.  ~ Foto Verskaf

RADIO Eersteriver het verlede maand sy eerste bestaansjaar gevier.

Dié radiostasie is Joshua Kinnear se visie. Hy het met plaaslike radiostasies gepraat om die musiek van die plaaslike groep Azanian Flames (waarvan hy lid was) te speel.

Toe hulle oral weggewys word, het Kinnear besluit om sy idee vir ’n eie stasie aan Bran­don Fisher, Jurien Bruintjies, Noel Bekeur en Theodore Willemse voor te lê.

Hulle het Radio Eerste­river toe op 22 April 2020 gestig.

Die nuwe radiostasie is op 8 Julie 2020 suksesvol geregistreer en is reeds besig om plaaslike kunstenaars ’n verhoog te gee om hul musiek aan die wêreld bekend te stel.

Radio Eersteriver het baie gegroei en spog reeds met meer as 100 000 aanlyn luisteraars van plaaslik en oorsee.

App

Verskeie besighede het ook al baat gevind by die stasie se bemarking, advertensies en deur regstreekse uitsendings van hul sakepersele.

Radio Eersteriver spog ook met ’n luister-app en ’n Radio­EersteriverAds app wat jy op Google Play kan aflaai. Kinnear het die app self geskep.

Die radiostasie se personeel sê dankie aan almal wat in hulle geglo en hulle ondersteun het.

Mense kan op hul webwerf, radioeersteriver.co.za, met hulle in verbinding tree. Die stasie se e-posadres is info@radioeersteriver.co.za.

Die radiostasie se bemarkingsbestuurder, Henry Prens, sê die toekoms lyk blink en hulle gaan eersdaags na hul eie ateljee trek.

Hou hul Facebookblad dop vir meer inligting oor wanneer hulle die ateljee gaan launch.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters