12 dae gelede
Popsterre in wording
AKTEUR: Die akteur Joseph Mitchell wil meer aandag aan sy musiek gee.  ~ Verskaf

DIE drie unieke deelnemers wat die kitaarghoeroe Loki Rothman in popsterre gaan laat ontpop, is dié week bekendgemaak!

Die gelukkige drie deelnemers wat op kykNET se nuwe realiteitsprogram Wat Dit Vat is, isJoseph Mitchell, Edo Mostert en Michelle Mountjoy.

Hulle sal op ’n reis saam met Loki en hul mentors gaan om te kyk of hulle het wat dit vat om ’n popster te word.

Die geliefde Early B van Bloemendal sal Joseph­ Mitchell se mentor wees.

Appel is Michelle se mentor.

Edo sal saam met Die Heuwels Fantasties se Hunter Kennedy werk.

Die mentors sal vir hul deelnemer ’n liedjie skryf en deur die loop van die program saam met hulle werk om ’n musiekvideo aan die einde van die reeks bekend te stel.

Verandering

Joseph (61) van Kaapstad is ’n afgetrede stadsraadswerker en akteur wat nou sy sangtalent vir die wêreld wil wys.

“Ek het ingeskryf omdat ek ’n sangtalent het wat ek nog nie rêrig bemark het nie en graag aan my landgenote wil bekendstel.

“Op hierdie ouderdom soek ek ook ’n verandering in my lewe, so, toe gooi ek myself aan die diep kant in en kyk net daar! Nou is ek besig met my eie single en musiekvideo,” sê Joseph opgewonde.

Michelle (26) is oorspronklik van Amerika, maar sy woon deesdae in Kaapstad. Sy het gevoel asof dié reeks spesiaal met haar gepraat het.

“Ek het ingeskryf omdat ek ’n klein deeltjie van my Maak My Famous-oudisie op die advertensie gesien het.

“Toe is dit asof die show my roep. Ek het toe ingeskryf en niks verwag nie.

“Nou sit ek aan die ander kant van dit alles en is steeds sprakeloos dat ek dit gemaak het!

“Ek sal vir ewig dankbaar wees vir dié ervaring,” vertel sy.

Edo (29) van Piketberg is ’n professionele troufotograaf wat al internasionale bekend­heid vir sy werk verwerf het.

Hoekom het hy ingeskryf? “Want ek wil famous wees!” sê hy reguit.

  • Wat Dit Vat met Loki Rothman is elke Maandag 20:30 op kykNET te sien.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters