6 dae gelede
Play 'voed op'
SPAN: Issy Davids, Keith Bergsted, Heinrich Hanana, Joshwin Dyson en Byron McKeith werk saam aan Die Geheim.  ~ Foto Verskaf

DIS ’n toneelstuk wat elke emosie denkbaar in jou wakker maak. Dit voed jou en gee jou insig in die LGBTQ-gemeenskap.

So sê die talentvolle Byron McKeith. Hy het ’n briljante toneelstuk, Die Geheim, in samewerking met die Northlink-kollege se drama-afdeling geskep vir sy director’s module.

Die toneelstuk het groot opslae gemaak toe dit vir die eerste keer op 7 Oktober op die kollege se Tygerberg-kampus opgevoer is.

Die student-regisseur het aan Son verduidelik waaroor die toneelstuk gaan.

“ ’n Getroue homoseksuele paartjie, Vivian en Anton, bly in ’n moderne woonstel in Kampsbaai.

“Terwyl die twee baie verlief en al vir agt jaar getroud is, worstel Vivian dikwels oor hul verlede, hul ouers en kinderjare.

“Die spanning begin opbou omdat Vivian agterkom hul beste vriend, Tash, mag dalk iets weet of dalk nie. Of weet Anton dalk iets? Wat is in die kis onder hul bed? Watter geheime dra mense?”

Die produksie word opgedra aan die LGBTQ-gemeenskap en diegene wat met bipolar leef.

Die produksie het lewe gekry met ’n span uiters begaafde jong akteurs.

Die twee hoofkarakters word gespeel deur die talentvolle Arendsvlei-ster Joshwin Dyson en Heinrich Hanana.

Keith Bergsted vertolk die rol van Tash Adams.

Die teks is deur die bekroonde danser, akteur en regisseur Tyron Zoutman geskryf.

Die regie en verwerking word gedoen deur McKeith, wat tans besig is met sy BTEC Higher National Diploma in Performing Arts.

McKeith sê dit is belangrik om mense op te voed met hierdie toneelstuk.

“Dit was vir my soveel pret om Die Geheim te skep.

Vrede

“Die toneelstuk probeer beklemtoon dat om anders te wees, is oukei.

“Dit leer jou om nie te diskrimineer nie.

“Ons moenie ander mense judge nie.

“Die lewe is ’n gift en ons moet almal in vrede saam met mekaar leef.”

Hy beloof die show sal gou in ’n teater in Stellenbosch op die planke kom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters