18 dae gelede
Pas jouself op in 2021, sê bekendes
bekendes
Bekendes se raad vir 2021  ~ 

’N NUWE, onbekende jaar lê soos die lang pad voor ons. Van die plekke is soos die maande bekend, maar wat op ons wag, weet niemand nie.

Son het by ’n paar bekendes gaan hoor wat hulle beplan en wat hul motivering vir die jaar is ná ’n onsekere 2020.

Die jong, bekroonde akteur Roberto Kyle sê hy sien uit na die nuwe jaar.

Hy vertel: “Daar is opwindende karakters en stories om na uit te sien. Ek speel in my eerste hoofrol in ’n Suid-Afrikaanse film, Sons of the Sea. Dis ’n rol waarop ek ongelooflik trots is. Ek is ook te sien in die fliek Stiekyt, maar daaroor praat ons later in die jaar.”

roberto kyle
MOTIVERING: Roberto Kyle meen geluk is aan die kant van dié wat voorbereid is.Foto: Nathan Kruger

Roberto, wat ook vanjaar in die dramareeks Afgrond te sien is, het verlede jaar die Safta vir beste akteur in ’n sepie vir sy rol as Lee-Roy Foster in Arendsvlei gewen.

“In 2021 werk ek ook aan ’n play saam met ’n vriendin, Kanya Viljoen, en daar is selfs musiek wat in die nuwe jaar kom.”

Dapperheid

Roberto vertel sy motivering vir die jaar is om voorbereid en ingelig te wees.

“Ek voel geluk favours dié wat voorbereid is.

“My advies vir die jaar is dat dit ongelooflike dapperheid vereis om werklik die beste weergawe van jouself te wees.

“Dit vat konstante werk. So, werk aan jouself.”

Charlene le Roux vertel: “Ná ’n jaar soos 2020 is my motivering vir 2021 om te kyk na myself en my geliefdes, my geestesgesondheid en om net te stop en die rose te ruik.

“Ek wil ook iets nuuts leer en nie myself beperk nie. Oh, en nie so hard op myself wees nie.”

Arendsvlei-kykers ken haar as Yvette Ross, wat in die laaste paar weke van 2020 in die telenovela ook maar groot hartseer moes deurmaak.

Charlene vertel: “Daar is ’n paar projekte waaraan ek werk dié jaar, maar ek geniet nog Yvette se journey in Arendsvlei en kan nie wag om te sien wat lê voor vir haar en om dit met kykers te deel nie.”

charlene le roux
raad: “My wens is work hard, play hard, love harder and to live and laugh,” sê Charlene le Roux. FOTO’S Verskaf

Sy bieg ook dat sy baie graag meer teaterwerk wil doen.

“Vir nou sit ek dit maar net uit in die heelal.

“My wens vir die jaar is ’n bietjie cliché, maar dis work hard, play hard, love harder and to live and laugh.”

Die land het Reggie B, oftewel Reagan Plaatjies, in 2020 op Maak My Famous leer ken.

Dié Afrikaanse rapper van Worcester val met die deur in die huis en sê: “Vir die nuwe jaar voer ek sommer baie in die mou!

“Alles is maar nog net ’n gedagte. Maar ek beplan beslis om meer van my te laat hoor en sien.”

Hy vertel hy gebruik die feestyd om hard te werk en is besig met ’n hele paar songs waarna jy in 2021 kan luister.

“My motivering vir die nuwe jaar is om te march met geloof.”

PLANNE: Vir 2021 voer hy sommer baie in die mou, bieg Reggie B.

Gretchen Rams­den­ wil in die nuwe jaar ’n ander weergawe van haarself vind – “anders as net toneelspel; iets wat saamvloei met dit wat ek nou doen,” voeg sy by.

Die aktrise is bekend vir haar rol as Nicolene Arendse in Arendsvlei en het ook die rol van Hestertjie in die fliek Toorbos vertolk.

Gretchen vertel haar motivering vir die jaar is: “Alles wat gebeur, gebeur vir ’n rede!

“Al dink ons die wêreld is teen ons in die oomblik, gebeur alles om ons vorentoe te dryf.”

REDE: “Al dink ons die wêreld is teen ons in die oomblik, gebeur alles om ons vorentoe te dryf,” sê Gretchen Ramsden.
Skrywers

Haar wens aan almal is om die gees van ons harte en nie ons denke te volg. “Dit vorm innerlike vrede.”

Iemand wat baie na die nuwe jaar uitsien, is die diva Salome.

Sy vertel: “Ek sien uit na 2021 en om aan nuwe dinge met Marc Lottering en ander skrywers te werk.

“In die tyd waarin ons lewe en ná die jaar wat ons gehad het, is my wens dat ons besef en aanvaar watter realiteit hierdie pandemie is.

“Gehoorsaam maar die Covid-reëls sodat ons môre kan sien en ons destiny voltooi.”

LEWENSUITKYK: Salome sê haar motivering vir die jaar is om nooit haar drome en aspirasies op te gee nie.

Salome sê haar motivering vir die jaar is om nooit haar drome en aspirasies op te gee nie.

“My gebede gaan ook uit vir almal wat ’n geliefde in dié onsekere tyd verloor het en diegene wat siek is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters