8 dae gelede
Pak pandemie met digkuns
KREATIEF: Gevestigde en opkomende digters se werke kan in Maskers en Mure verskyn.  ~ istockimages

JOU gedig kan verskyn in die nuwe Afrikaanse digbundel met verse oor die Covid-19-pandemie wat in Mei vanjaar die lig sien.

Dié bundel, Maskers en Mure, bied aan alle Afrikaanse digters – gevestig en opkomend – die geleentheid om uitdrukking te gee aan die impak van die pandemie op mense en hul lewe. Die samestellers is die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh, met die ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport. Dit word deur Turksvy Publikasies uitgegee.

Gevestigde Afrikaanse digters is reeds genooi om voorheen ongepubliseerde gedigte voor te lê. Nou soek die samestellers na nuwe stemme – bydraes van digters wat tot dusver nog nie gepubliseer is nie, en as digter wil debuteer.

Alle bydraes moet die pandemie as kerntema hê, en kan vir keuring tot einde Februarie ingestuur word. Waar nodig sal Hugo en Hannes Visser, die Oudtshoornse digter en medestigter van Turksvy Publikasies, die bydraes vir publikasie skaaf.

Volgens Visser weerspieël woordkuns die emosies, gemoedstoestand en gewaarwordinge van ’n taal se mense in ’n sekere tydvak en onder spesifieke omstandighede.

“Hierdie bundel is Afrikaanse digters se verwoording van ’n globale verhaal van vrees, maar ook moed en vertroosting in ’n mensvreemde tyd,” sê Visser.

Ondernemingsgees

Marlene Malan, joernalis en medestigter van Turksvy Publikasies, sê Maskers en Mure vertel in versvorm die verhaal van ’n jaar van isolasie, alleenheid en eensaamheid, van vrees en verlies.

“Maar ook van ’n tyd waarin mense sin probeer maak uit hierdie verskrikking – deur skeppendheid en ondernemingsgees, waarvan dié digbundel ’n weerspieëling is.”

Belangstellendes kan hul by­drae teen Sondag 28 Februarie 2021 per e-pos aan Daniel Hugo stuur, by danielhugo.skryf@gmail.com.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters