2 maande gelede
Ou treffer trek nuwe jas aan
mentor: Frazer Barry sing saam met Amanda. foto’s verskaf  ~ 

DAAR is ’n nuwe weer­gawe van Amanda Strydom se lied “A Child in a Faraway Land”.

Die Suidoosterfees en Jakes Gerwel-stigting het Nelson Mandeladag vanjaar met ’n spesiale projek gevier.

Die lied is opgeneem en uitgereik as deel van ’n spanpoging deur die Cape Town Music Academy (CTMA) en Die Burger.

In die nuwe weergawe sing Thandeka Dladla en Lumanyano “Unity” Mzi van The Unity Band en Frazer Barry saam met Amanda.

Amanda het die lied in 1994 geskryf, die jaar toe Madiba as president ingehuldig is. Sy het gereeld tyd saam met die staatsman deurgebring.

“Hy het my geleer wat ware deernis en vergifnis beteken,” sê Amanda, wat Donderdag 64 geword het.

“My wens is dat ons Madiba se voorbeeld sal onthou en uitleef.

“Leef met deernis, vrygewigheid en dankbaarheid. Respekteer en wees lief vir mekaar.”

Frazer het Madiba in 1993 ontmoet by die destydse president se besoek aan Genadendal.

“Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek was ’n matrikulant en het as jong Suid-Afrikaner op daardie oomblik gevoel wonderlike dinge is moontlik.

“Dit was ’n eer om lirieke te kon bydra vir hierdie wonderlike lied van die legendariese Miss Mandy.”

Unity sê hy voel geëerd om deel te wees van ’n video wat generasies saambring om Madiba se droom van eenheid en diversiteit voort te sit.

Dit is presies hoe Tha­ndeka voel: “Dis inspirerend om deel te wees van ’n projek wat, hoewel dit ons vrese aanspreek, fokus op hoop vir ’n beter toekoms.”

Die kunstenaars in die video sal saam met ander gesoute kunstenaars deel wees van ’n grootskaalse produksie wat in 2021 by die Suidoosterfees debuteer.

Die CTMA is ’n maatskappy sonder winsbejag wat vir kontemporêre musikante geleenthede skep.

Vicky Davis, vervaardiger en programbestuurder van die CTMA, sê: “Amanda, Frazer, Lumanyano en Tha­ndeka is uiteenlopende kunstenaars.

“Hulle verteenwoordig elk ’n ander genre en generasie van die musieklandskap.

“In hul kuns bevorder hulle almal sosiale samehorigheid.

“Die taal van musiek verenig mense.”

Die samewerking tussen die Suidoosterfees en Jakes Gerwel-stigting kom al ’n lang pad.

Die fees en stigting bied ook vir die eerste keer ’n liriek-skryfskool aan. Frazer is vanjaar ’n mentor daar.

Vyf opkomende liriekskrywers is gekies om aan die mentorskapprogram deel te neem. Hul talente word vir drie weke by die stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos geslyp.

Die jong liriekskrywers sal ook deel wees van ’n grootskaalse produksie wat in 2021 by die Suidoosterfees sy debuut sal maak.

Slag

Die nuwe “A Child in a Faraway Land”-video is ’n voorsmakie van waarna jy kan uitsien in dié produksie, wat deur die CTMA vervaardig word. Die video is ook uitgereik om die Tribuo-fonds vir uitvoerende kunste te ondersteun.

  • Die kunstebedryf in Suid-Afrika is hoofsaaklik ’n vryskut-omgewing.

Weens die Covid-19-pandemie het baie werkgeleenthede vir kunstenaars en tegnici in die slag gebly.

Die doel van die Tribuo-fonds is om die uitvoerende kunste ’n hupstoot te gee. Deur Tribuo, Latyns vir “ek gee”, kan jy ’n belegging in Suid-Afrika se kunstenaars maak.

Hoe gaan jy jou 67 minute in Mandela-maand gebruik?

Skenk R67 of meer aan die Tribuo-fonds en steun ons kunstebedryf. Besoek tribuo.co.za vir inligting. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters