9 dae gelede
Ons gunsteling Boeta Sallies word ’n actor
GRAPJAS: Salmon Smith, oftewel Boeta Sallies, wys binnekort gesig in ’n plaaslike fliek.  ~ Foto Verskaf

NIE net is hy die afgelope 11 jaar bekend vir Oom Sonnie-gunstelinge soos Lucien, Takuza die Katvrou en Jeppo die Laksman nie, Salmon Smith het ook in ’n kort tydjie ontpop as ’n grapjas van formaat.

Onder die verhoognaam Boeta ­Sallies post Salmon gereeld snaakse video’s op Facebook om die lagspiere te prikkel. Hy is ’n man wat daarvan hou om te lag en om die mense rondom hom te laat lag.

“’n Grap ’n dag laat die corona wag,” het Boeta Sallies verlede jaar geskerts.

As jy dink Salmon se ­talente eindig hier, maak jy ’n groot fout. Hy het onlangs ’n oudisie gedoen vir ’n fliek en tot sy eie verbasing die rol gekry.

Oor die fliek self kap Salmon egter zip: “Ek gaan niks sê nie, net dat ek binnekort in ’n plaaslike ­produksie te sien sal wees.”

Hy sê hy sal nader aan die tyd meer verklap.

Salmon is oorspronklik van Rawsonville en hy het nog altyd geweet hy wil iets in die lewe bereik. Hy haat dit as mense armoede as verskoning gebruik om nie bo hul omstandighede uit te styg nie. Enigiets is moontlik as jy net wil, is ’n gesegde waarin hy van kleins af glo.

Voete

Vir opkomende skrywers, grapjasse en akteurs het Salmon die volgende raad: “Droom groot, verbreed jou horisonne en sprei jou vlerke. Maar hou jou voete plat op die grond en moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters