12 dae gelede
Oë op die jeug se uitdagings
OPVOEDKUNDIG: Veronique Jephtas is te sien in die teaterstuk My Kroon se Krank.  ~ Foto Verskaf

OP JEUGDAG neem die Suidoosterfees jou terug skool toe.

Met die viering van Jeugdag 2021 neem die Suidoosterfees, KKNK en NATi teaterliefhebbers terug skool toe.

Die Klaskamer is ’n reeks kort plek-spesifieke produksies wat in verskillende ruimtes van Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied word.

Die ses opvoerings van agt minute elk ondersoek uit­dagings waarmee jong mense vandag te doen kry.

Gehore roteer in groepe tussen die verskillende ruimtes om al die stukke te sien.

Cintaine Schutte is te sien in die eenvrouvertoning Vlegsel, geskryf en geregisseer deur Wessel Pretorius.

Dit handel oor ’n volwasse vrou wat haar verlede herbesoek nadat sy ’n tienermeisie se noodkreet in die sosiale media raaklees.

Kwessies

Veronique Jephtas, wat deesdae groot opgang as digter, akteur en dramaturg maak, is verantwoordelik vir My Kroon se Krank.

Sy speel in dié stuk wat sy self geskryf het, en plaas kwessies soos hare-politiek en selfaanvaarding onder die vergrootglas.

Rafiek Mammon se Die Skoolbasaar, met Eldon van der Merwe en René Cloete, bied ’n blik op die trauma van seksuele mishandeling.

Kokon, geskryf en geregisseer deur Carlo Daniels, raak die temas van boeliegedrag en seksuele identiteit aan.

Dié fisieketeater-produksie span beweging en klank in om die wreedheid wat onder die oppervlak van ons menslike bestaan broei, uit te beeld.

Darion Adams en Ayden Croy is die akteurs.

Lede van Hoërskool Jan van Riebeeck se tienertoneelgroep stel hul talent ten toon in Om tee Treine te Skree.

Kaartjies vir Die Klaskamer is by Computicket beskikbaar teen R120 vir volwassenes en R80 vir skoliere, studente en groepe.

Die vertonings is nie geskik vir kinders onder 14 jaar nie.

Vertonings vir beperkte gehore vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas.

Alle Covid-19-protokolle sal ook streng gehandhaaf word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters