28 dae gelede
Ocean View meisie wen Maak My Famous
nicoleen saal,maak my famous
QUEEN: Nicoleen Saal dra die kroon as seisoen twee wenner van Maak My Famous. FOTO: Earl September  ~ 

Yass Queen...

Dit was die reaksie van gasbeoordelaar, Katlego Maboe, na Nicoleen Saal se optrede verlede week. 

Dis ’n week later en die stil meisie van Ocean View dra nou die kroon as wenner van Maak My Famous se reeks 2.

In ’n naelbyt-eindronde, waarin enige van die top-vier, Saal, Daylin Sass, Reggie B en DfeatSA, as wenner kon wegstap, is dit Saal - wat maar pas 21 geword het - wat koning(in) gekraai het.

Die eens skaam meisie sê sy weet nou nog nie wat om te sê nie.

“Ek weet dat my wen beteken so baie, vir my en die mense van Ocean View. Ek het net nie gedink dat dit kan of gaan gebeur nie.”

Nicoleen noem dat sy beslis gegroei het van die stil meisie aan die begin kompetisie. 

“Ek was daardie meisie wie net in die huis gesing het. Daarom is my boodskap vir die jeug skep jou ruimte, wees sterk, en gaan uit en doen dit net.”

Die publiek se stemme het Emo Adams met die keuse gelaat om te kies tussen die meisie van Ocean View of die rapper van Rawsonville, Reggie B.

Na afloop van die show vertel Emo aan Son: “Nicoleen is die enigste deelnemer wie nie ’n save of Emo-ticket gery het nie.

“Sy het letterlik tot die einde op haar eie gekom en dit is waarom ek haar gekies het.”

Saterdagaand se finale het egter op ’n hartseer noot begin toe Emo aankondig dat Herton Joseph oftewel DfeatSA homself tydens die rehearsals beseer het en nie sal perform nie.

Rushney Ferguson, dans-mentor, vertel: “Ons het gehoop en bid maar aan die einde van die dag sal ek liewer dat hy gereed is vir sy loopbaan as vir die performance.” 

Herton sê na die voorval was hy bietjie teleurgesteld.

“Ek sou graag my laaste performance met ’n bang wou uitgaan.” 

Hy voeg by: “Ek weet ’n bright toekoms wag vir my en ek is net bereid om te leer en te groei.” 

DfeatSA het talle met sy optrede verlede week ’n traan of twee laat stort.

Hieroor sê hy: “Dit was nogal een van my drome om soos ’n sanger mense se harte te raak. Wat ek besef het is dat ek sing met my liggaam.”

DfeatSa se raad aan veral die jeug: “Elke stap wat jy vat bepaal waarheen jy gaan. Al is jy bang, moenie bang of skaam wees nie, vat die kans.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters