2 maande gelede
Nóg ’n diploma
in aksie: Enrico Hartzenberg en Kay Smith speel in sy teaterstuk, Liefde Is Rooi.  ~ 

HY HET die opbrengs van sy eerste teaterstuk gebruik om vir sy studies te betaal.

Dít is die inspirerende verhaal van die talentvolle storieverteller Enrico Hartzenberg (25) wat laas week sy diploma in Theatre and Performance aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het.

Hy het van 2018 tot 2020 aan dié universiteit gestudeer.

Die vervaardiger en baasbrein agter die suksesvolle web-reeks Van Adamse sê hy het nie aansoek om befondsing vir sy studies gedoen nie.

“Ek het nie geweet waar die geld vandaan gaan kom om my studiegeld te betaal nie. Dit is toe dat die Woordfees my teaterstuk Liefde Is Rooi opgetel het.

“Ek het daardie geld gebruik om van my studies te betaal.”

Enrico, wat deur ’n enkelma grootgemaak is, is die eerste een in sy familie wat die voorreg het om te gradueer.

“Ek dra hierdie kwalifikasie aan die hele Hartzenberg-familie op.

“Ek hoop dat dit ander inspireer om ook in my voetspore te volg.

“Ek sou hierdie nie kon gedoen het sonder die hulp van my ma en ouma nie.”

Hy sonder veral sy mammie, Elizabeth Hartzenberg, uit.

vol vreugde: Elizabeth Hartzenberg wys trots haar seun se diploma.foto’s verskaf

“My ma het my alleen grootgemaak. Sy is ’n domestic worker wat elke dag gaan werk het om seker te maak dat ek het wat ek vandag het.

Verwerf

“Sy het baie hard gewerk en ek wil nog harder werk om haar die vrede en rus te gee wat sy verdien.”

Enrico is nie net ’n briljante skrywer, akteur en danser nie. Hy het ook in 2017 by Boland Kollege ’n diploma in ondernemingsbestuur verwerf.

Hy sê hy gebruik sy sakebestuur-kennis nou in perfekte simbiose met sy toneelspel-diploma.

“Dit gee my die mag om eienaarskap van my werk as kunstenaar te neem. Ek weet hoe om dit te bestuur en dit gaan ook goed te pas kom as ek eendag my eie maatskappy wil begin.”

Die goeie nuus hou net nie op vir dié boorling van Sarepta in Kuilsrivier nie.

Enrico het ook onlangs ’n goeie werk by Sun International losgeslaan. Hy is nou ’n HR trainee daar.

Hy vertel dat dié job op die regte tyd gekom het.

“Ons weet die kunste is tans weens die verpletterende Covid-19-pandemie gekniehalter.

“Die nuwe werk is voordelig veral in dié tye waarin ons tans leef.”

Hoewel hy nou ’n permanente job het, werk die storieverteller steeds hard aan sy kunste.

“Ek is tans onder baie druk, maar ek bestuur my tyd effektief. Op my afdag gee ek aan my kuns-loopbaan tyd.

trots: Enrico het ’n diploma in Theatre and Performance.

Temas

“Ek skryf steeds. Ek het onlangs twee fotosessies georganiseer, twee tekste afgehandel en selfs akteurs daarvoor gecast,” vertel hy trots.

Dié skrywer van die pragtige teaterstuk Dans Van Die Watermeid wei uit oor die twee temas wat vir hom in sy tekste tans belangrik is.

“Ek wil graag bewustheid skep oor geweld teen vroue. Ek skryf ook oor die kommunikasie met die dooies.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters