2 maande gelede
NJMK in Desember hier
klassiek: Ses finaliste kry die geleentheid om saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op te tree.foto verskaf  ~ 

DIE 36ste Nasionale Jeug­musiekkompetisie (NJMK) sal eers van 6 tot 11 Desember by die Hugo Lambrechts-oudito­rium in Parow plaasvind.

Vanjaar het ’n rekordgetal opkomende jong musici van oor die land heen ingeskryf om vir die rekordprysgeld van R155 000 en medaljes in aanmerking te kom.

Dit is die enigste Suid-Afrikaanse musiekkompetisie waar die ses finaliste die geleentheid kry om saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) op te tree.

Veiligheid

Ten spyte van die wêreldwye Covid-19-pandemie wat tot die kansellering van verlede jaar se kompetisie en vanjaar se uitstel gelei het, is die NJMK veerkragtig en buigsaam genoeg om aan te pas ten einde aan die nasionale inperkingsregulasies te voldoen.

“Die gesondheid en veiligheid van ons toekomstige klassieke musieksterre, hul ouers en leerkragte is ononderhandelbaar,” sê Michael Maas, voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS).

Die uitstelling van die kompetisie tot Desember sal alle betrokkenes daarby baat.

Volgens Maas steun die meeste deelnemers, hul ouers en onderwysers die nuwe datums.

“Ons is dankbaar dat ons borge en ondersteuners onwrikbaar staan in hul verbintenis tot die NJMS,” sê Maas.

Om te verseker dat die kompetisie aan die Covid-regulasies voldoen, het die NJMS ’n professionele gesondheidspersoon aangestel om die veiligheid van deelnemers, hul ouers, leerkragte en gehore te verseker.

“Kaapstad is ’n stad van geleenthede en het ’n rykdom aan begaafde jong mense,” vervolg Maas.

“Ons visie is om vennootskappe te sluit met ondernemings wat platforms skep waar die jeug hul talente kan uitleef voor ’n wye gehoor.

Aangekondig

Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê: “Die Stad Kaapstad is trots om saam met die NJMK te werk om talent op die verhoog te identifiseer en te bevorder, onderhewig aan inperkingsregulasies.”

Die volledige lys van gekeurde deelnemers sal aan die einde van September aangekondig word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters