5 dae gelede
‘Nêrens, Noord-Kaap’ kry tweede seisoen

DAAR gaan ’n tweede reeks van die spoggerige reeks Nêrens, Noord-Kaap met sy hartroerende storielyn en beeldskone landskappewees.

Die vervaardigers by kyk­NET het Woensdag bevestig dat ’n tweede seisoen goedgekeur is.

Daar is sommer al vroeg ná die eerste die uitsending van Nêrens, Noord-Kaap vir ’n tweede seisoen gesoebat.

Kykers het die kanaal gepeper met comments soos “Ons hoop julle het al aan ’n tweede seisoen begin werk...” en “Ons is nog nie reg om te groet nie. Kom daar nog?”

Die reeks handel oor drie vervreemde broers wat die kronkelpad na hul ouerplaas, Nêrens, terugvind.

Op dié plaas staan geheime, hartseer en die waarheid oor hul ma se dood in die pad van verlossing.

Dean Balie vertolk die rol van Jan-Jan, die voorman op die plaas. Ilse Klink vertolk die rol van Maggie, wat ’n integrale rol in die grootmaak van die drie Adendorff-broers gespeel het.

Die skrywer en regisseur, Nico Scheepers, sê: “Ek het aanvanklik gesê Nêrens, Noord-Kaap moet net een seisoen hê.

Notas

“Maar soos ek aan die reeks geskryf het, en veral toe ons geskiet het, het ek idees gekry oor waarheen die storie kan gaan as daar nog ’n seisoen is.

“Ek het notas begin maak en teen die einde van episode 13 het ek besef dit is eintlik die eerste deel van ’n nuwe reeks van 26 episodes.”

Nico hou sy kaarte styf teen sy bors as dit by die nuwe seisoen kom.

“Ek wil niks weggee nie. Al wat ek kan sê, is dat ek beplan om met dieselfde rolverdeling te werk.

“Daar sal ’n handjievol nuwe­ karakters wees, maar meer as dit wil ek nie sê nie. Die een ding wat kykers egter nou al moet weet, is dat Jan-Jan (Dean Balie) beslis nié Lourens (Frank Opperman) se kind is nie.”

Nico glo Nêrens, Noord-Kaap het by kykers aanklank gevind omdat dit ’n eerlike, rou en emosionele verhaal is.

“Dit verdien ’n tweede seisoen,” sê Ilse.

“Die eerlikheid van die storie en die karakters verdien om verder vertel te word.

“Ek is baie bly vir Nico. Hy is ’n uitstekende storieverteller.

“Wat hoop ek vir Maggie? Ek hoop haar ander kant gaan gewys word, wat haar vreugdes en teleurstellings is en wat haar redes is hoekom sy al die jare gebly het.”

De Klerk Oelofse vertolk die rol van Andries en vertel: “Ek was in die kar op pad na Robertson vir Dean Balie en Bianca Flanders (Jan-Jan en Chrissie) se troue toe ek gehoor het daar kom ’n tweede seisoen.

Fees

“Dean het langs my gesit en dit was net nog ’n rede om daai naweek groot fees te vier.

“Dis ook wonderlik om te weet dat die klein storie wat op die verhoog begin het verder uitgebou en ontdek kan word.”

De Klerk sê Andries se reis in die eerste seisoen was grotendeels om sy gesin te probeer heelmaak.

“Ek hoop hy kan dalk in die volgende seisoen ’n bietjie healing vir homself vind.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters