8 dae gelede
Neem deel en kook!
Deel kennis: Die supersjef Bertus Basson is die aanbieder vir die nuwe kykNET-programIn die sop: Restaurant Evolusie.foto verskaf  ~ 

IS JOU eetplek in die sop?

Die ekonomie wêreldwyd het die afgelope jaar ’n harde klap gekry en een van die bedrywe wat seker die hardste getref is, is die restaurantbedryf.

Maar vir sommige eetplekke is dit nie ál nie. Hulle sukkel met swak diens, verouderde spyskaarte en oninspirerende dekor.

En nou wil kykNET eienaars help om hul eetplek – of dit nou ’n koskaravaan of ’n fynproe- of familie-restaurant is – ’n hupstoot gee met die nuwe TV-reeks In die sop: Restaurant Evolusie.

Aan die stuur van die program, en ook as aanbieder, is die bekroonde supersjef Bertus Basson. ’n Span deskundiges gaan hom bystaan en insette gee.

Bertus is in die Kaap gebore, maar het in die noorde van die land grootgeword. Hy het reeds van ’n baie jong ouderdom sy ma in die kombuis begin help en op net 17 vir hom ’n loopbaan in die kosbedryf begin uitkrap.

Lesse

Op 19 is hy na Londen, waar hy onder meer by die Michelin-bekroonde Chez Bruce gewerk het.

Ná sy terugkeer na Suid-Afrika is hy met verskeie toekennings vereer waaronder die Eat Out S. Pellegrino & Acqua Panna Sjef van die Jaar in 2019.

Die 41-jarige is die eienaar van en sjef by vyf restaurante in en rondom Stellenbosch.

“Ek het al groot sukses gesmaak, maar oor die jare het ek ook baie foute gemaak en dure lesse geleer.

“Nou wil ek daardie insigte met ander restauranteienaars deel.”

Om in te skryf, gaan na kyk­net.tv vir meer inligting of stuur ’n e-pos aan inskryf@indiesop.tv met jou kontakbesonderhede, adres en ’n kort paragraaf oor jou situasie en hoekom jy dink jy een van die persone moet wees wat gekies word. Jy moet ook foto’s van jou eetplek instuur.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 14 Maart en net tien restaurante sal gekies word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters