10 dae gelede
Musiekmakers kan inskryf
Musiekman
MUSIEKMAN: Frazer Barry sal as die mentor optree.  ~ Foto Verskaf

DIE Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees nooi liriekskrywers­ en sangers wat oorspronklike liedjies in Afrikaans, Engels of isiXhosa skep, om aansoek te doen vir deelname aan ’n uitgebreide mentorskapprogram.

Die klem van die projek val op eg Suid-Afrikaanse klanke en vars lirieke. Belangstellendes moet teen 28 Junie 2021 ’n voorlegging van hoogstens drie voorbeelde van hul lirieke saam met ’n kort motiveringsbrief en hul CV na theo@jgf.org.za stuur.

Die program fokus daarop om opkomende liriekskrywers die geleentheid te gee om hulle vaardighede te slyp en om toegang tot die mededingende Suid-Afrikaanse musiekbedryf te kry.

Suksesvolle kandidate sal van 1 tot 15 September 2021 aan die program by die Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap deelneem.

Mentor

Alle reiskostes, maaltye en verblyf word gedek.

Frazer Barry, bekende musikant, skrywer, vervaardiger en televisieaanbieder, sal as die mentor optree.

Ná die program sal deelnemers saam met Barry en ander professionele kunstenaars aan ’n produksie werk wat in 2022 op die Suidoosterfees sal debuteer.

Vanjaar was Drome Het Vlerke, ’n soortgelyke produksie saam met die vorige groep deelnemers, een van die fees se hoogtepunte.

Naaim Briesies, wat verlede jaar deelgeneem het, sê: “Ek moedig enige kunstenaar aan om aansoek te doen en deel te neem aan hierdie briljante inisiatief. Jou drome kan onder Frazer Barry se leiding en mentorskap vlerke kry.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters