7 dae gelede
Musiek met 'n message
junant
VOL BEMOEDIGING: Junant “Bozza” Petersen werk aan sy nuwe album.  ~ Foto Verskaf

DIÉ hip-hop-kunstenaar van die noordelike voorstede van Port Elizabeth Junant Petersen (36) ken nie van stilsit nie .

Die rapper ook bekend as Bozza is op die oomblik in die Kaap om te werk aan sy nuutste album. Hy werk saam met die rymkletsers Hemel­Besem en Cream.

Van 1995 tot 2017 was Junant lid van die musiekduo Terrible Twinz. Die Twinz was hy en sy tweelingbroer, Jaques Petersen.

Voordat hulle die musiekwêreld betree het, was hulle berug vir hul dwelm- en bendebedrywig­hede. Hulle het toe in 1995 daardie lewe vaarwel toegeroep en besluit om deur musiek ’n verskil te maak in vele jong mense se lewe.

As ’n groep het hulle vele albums agter hul naam.

Dit sluit in Kallids (1995), Unauthorized Entry (2000), Skarrel (2009), Cell Block (2016) en God Se Genade (2017).

Die Terrible Twinz het in 2011 saam met Freek Robertson op Fokus verskyn en in 2016 op Special Assignment.

WIL BOODSKAP BRING: Die Baaise rapper wil jong mense opvoed oor bendes. Foto: Verskaf

In 2015 het hulle die liedjie “Love You, Mandela” saam met die kinderkoor van Helenvale opgedra aan oudpres. Nelson Mandela.

Waarsku

Die Twinz het al verhoë gedeel met groot name soos TKZee en Mandoza.

In 2017 het Junant besluit om solo te gaan. Sy musiekloopbaan spoed voort.

“Met my musiek wil ek fokus op die bendegeweld en die jeug daarteen waarsku,” gaan Junant voort.

“Ek wil deur die Afrikaanse hip-hop-kultuur ’n impak maak in die gemeenskappe hier en in hul omstandighede.

“My debuut-single as solo artist, ‘Niemand Worry Oor Ons Nie’, het ek in 2019 bekend gestel.

“Ek is besig om te skiet aan die musiekvideo van my ander single, ‘Hosh’, asook aan ’n documentary vir die SABC 2-program Fokus.

“In die song praat ek oor die nommerskap en hoe die jong mense moet saamstaan teen bendegeweld en dwelms.”

Bozza is ook deesdae ’n motiveringspreker en bemiddelaar wat die bendegeweld betref in die noordelike voorstede van Port Elizabeth.

Mense wat nog inligting benodig, kan hom gerus kontak by 078 165 5165 of 083 394 4425.

Hy kan ook deur Facebook en Instagram bereik word.

Of stuur vir hom ’n mail by junantpetersen@gmail.com.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters