10 dae gelede
Musiek gee weer lewe
Luister love songs: August West staan gereed met sy show An Entanglement with August.  ~ Peter Abrahams

IS JULLE reg vir An Entanglement with August?

Jy sal beslis nie Vrydagaand wil die briljante en passievolle saxofoonspeler August van der Westhuizen, oftewel August West, se musiekkonsert in die Roxy Revue Bar wil misloop nie.

An Entanglement with August, die konsert van die koperblaser van Matroosfontein, is onder die vaandel van Arts Unite.

Brukman Consulting het dié reeks konserte geskep om weer lewe in die vermaaklikheids­bedryf te blaas.

August nooi jou uit om ’n aand van lekker saamsing en love songs saam met hom te kom geniet.

“Ek gaan songs doen wat ons almal al êrens gehoor het, maar die tema gaan meer oor die liefde. So, ek gaan meestal love songs doen.”

Die talentvolle musikant verduidelik hoekom dit so belangrik is om plaaslike kunstenaars te ondersteun.

“Ons weet ons kunstenaars is baie deur onlangse gebeure soos die pandemie geraak.

“So, moenie vir een oomblik huiwer om local kunstenaars se vertonings by te woon nie.”

Hy voeg by: “Ek fokus daarop om mense in die oomblik te laat lewe as ek op die stage klim, want mense leef baie selde in die oomblik.

Swoeg

“As musiek eg en rein is, kan dit jou laat beter voel en terapie vir jou siel wees.”

August verklap hy swoeg hard aan ’n nuwe projek.

“Ek werk tans aan ’n gospel-album, The 1st of August.

“Weens die inperking het dinge moeiliker geraak, maar ek weet met God aan my kant kan dinge net beter in die toekoms uitwerk.”

Die Arts Unite shows wat hierdie week plaasvind, is:

  • 24 November: Candice Thornton
  • 26 November: August West
  • 27 November: Robin Pieters (16:00 en 20:00)

Deure maak 19:15 oop en die gordyne lig 20:00. Kaartjies kos R150 elk en is beskikbaar by bridgette@brukman.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters