7 dae gelede
Moord-dokkie oor SA geweld is ’n móét
Series
DOKKIE: M-Net se nuwe dokumentêre reeks Strangers You Know skop op 27 Junie af.  ~ Foto Verskaf

SLAGOFFERS word gewoonlik mishandel, vermoor en verkrag deur mense wat hulle ken.

Dít is dié kwessies wat die M-Net dokumentêr Strangers You Know gaan aanpak.

Die dokkie-reeks dek die hartverskeurende storie van Palesa Madiba, ’n student aan die Universiteit van Johannesburg wat vermoor en in ’n vlak graf by haar vriend se huis in Soweto begrawe is.

Ondenkbare

Daar sal ook lig gewerp word op die ongelooflike saak van die veroordeelde gesinsmoordenaar Henri van Breda.

Strangers You Know is ’n dokkie oor regte misdade wat die besonderhede dek van Suid-Afrika se mees ondenkbare moorde.

Daar is roerende onderhoude met die slagoffers se familielede en vriende.

Ontledings van die ondersoekers, forensiese patoloë en staatsaanklaers in elke saak sal ook ingesluit word en aan die kykers wys hoe die slagoffers brutaal vermoor is deur iemand wat hulle ken.

Jan du Plessis, die direkteur van M-Net-kanale, sê: “Suid-Afrika is in ’n stryd teen gendergeweld en ons hoop om die slagoffers te eer deur ’n lig te skyn op dié grusame misdade. Ons wil meer mense die moed gee om daaroor te praat.

“Deur hierdie dokkie-reeks mik ons om miljoene Suid-Afrikaners op te voed oor die impak van gendergeweld.”

Strangers You Know word vervaardig deur Combined Artistic Productions. Die dokkie-reeks gaan van 27 Junie 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters