14 dae gelede
Mooie mik hoog
INSPIRASIE: Robyn Matthews wil werkloosheid in haar gemeenskap bekamp.  ~ Verskaf

HAAR bene was jellie toe sy Saterdagaand as Mej. Universal Suid-Afrika gekroon is.

Robyn Matthews (22) van Ravensmead kon nie glo toe sy as koningin by dié groot nasionale skoonheidskompetisie in Pretoria gekroon is nie.

“Dit was ’n groot oomblik vir my en ’n ongelooflike ervaring. Ek het verwag dat ek huis toe sou gaan met ’n provinsiale titel en nie die groot na­sionale een nie.

“Ek verdien hierdie titel. Ek het dié maand kliphard gewerk en dit voel goed om te weet my harde werk het vrugte afgewerp.

“Ek wil hierdie titel met soveel trots en waardigheid dra.

“Dit is deur my vriende en familie, sowel as die hele Ravensmead-gemeenskap se ondersteuning dat ek met hierdie titel bekroon is.

“Hulle, saam met my modelling coach, Tiffany-Amber Moses, is die mense wat my motiveer om ’n beter weergawe van myself te wees.”

Verteenwoordig

Ons queen het nie net op die aand met die groot titel weggestap nie, sy het ook koning(in) gekraai in die volgende kategorieë: Beste onderhoud; beste tema-uitrusting; bes geklede persoon vir die onderhoude; beste aandrok; wenner van die Mej. Universal Face of South Africa; Miss Universal South Africa Western Cape en Miss Universal 7 Contitents South Africa.

Robyn verduidelik die laaste titel maak dit vir haar moontlik om Suid-Afrika in ander lande te gaan verteenwoordig.

Die hart van dié hardwerkende jong dame met die groot drome en selfs groter werketiek klop warm vir haar gemeenskap. Die maatskaplike kwessie wat sy by die horings wil pak, is werkloosheid.

“Ek wil hierdie platform gebruik om ’n verskil in my gemeenskap te maak en om ’n aktivis teen werkloosheid te wees.

“Dit is ’n groot euwel in my gemeenskap en ek wil bewusmaking skep. So baie jong mense weet nie watter kant toe nadat hulle gematrikuleer het nie.

“Ek wil graag werkswinkels en geleenthede skep om die jeug te help. Die jeug is ons toekoms en ons moet verseker hulle leer die regte vaardighede en kry geleenthede sodat daar ’n beter toekoms vir ons kan wees.”

Perfek

Dié beeldskone queen is ook by liefdadigheidswerk betrokke.

“Ek wil ook bewus­making skep oor die twee organisasies wat ek ondersteun. Die een orga­nisasie is die Rainbow of Hope­ Children’s Home en my kerk se Make A Difference-projek.”

Geluk, meisa, daai kroon pas perfek op jou elegante kop!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters