8 dae gelede
Model move na movies
MAAK MOVES: Tan-Ween Dass speel in die fliek Bloed Betaal 2.  ~ Foto Verskaf

DEUR strawwe beproewings in die lewe het sy nooit moed opgegee nie. En vandag kan Tan-Ween Dass (28) die vrugte van haar deursettingsvermoë pluk.

Sy is die kind van ’n enkelma, sy het geen matriek agter haar naam nie en mense het gedink sy sal dit nooit in die lewe maak nie.

Vandag is Tan-Ween ’n erkende model met haar kop hoog tussen die sterre, maar haar voete plat op aarde. En nou wil sy haar lewensverhaal gebruik om jong meisies te inspireer om hul doelwitte te bereik.

Binnekort is hierdie pragtige en dierbare mensie te sien in ’n plaaslike film genaamd Bloed Betaal 2. Dit is ’n film deur Mark Matroos wat in Maart deur Mojam Films hier op die Kaapse Vlakte geskiet is. Die film gaan oor bendegeweld en dit word binnekort uitgereik.

“Ek het in Hanover Park grootgeword en bly tans in Mitchells Plain,” sê Tan-Ween. “My loopbaan as fashion en glamour-model het laas jaar in Desember werkllk posgevat en vandag bestuur ek myself. Ek wys meestal gesig, of is dit nou lyf, in PPMC Magazine South Africa.

“Laas jaar met die lockdown het dinge nie so goed in die bedryf gegaan nie en ek het in ’n skoonheidsalon gaan werk om geld te maak.”

Sy is ook tans besig met die skiet van ’n internasionale HBO-series wat binnekort hier uitgereik gaan word.

Aangespoor

Op ’n vraag oor hoe sy in Bloed Betaal 2 beland het, antwoord sy: “Ek het die ad op Facebook gesien en toe het die sanger Von D my aangespoor om vir ’n oudisie te gaan.

“Ek was bietjie bang, want dit is die eerste keer dat ek in acting ingaan. Ek het toe vir myself gesê dat ek full force hierin moet gaan en toe het ek die oudisie geslaag.”

Haar wens is om eendag haar eie modelagentskap oop te maak om jong meisies in die modelbedryf te guide.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters