11 dae gelede
Merweville-bederf is op pad
OP DIE KASSIE: Armand­ Aucamp is opgewonde daaroor om weer die geliefde Tom in Die Boekklub te kan speel.  ~ Foto Verskaf

TOM, Lillie, Anna, Sofia en die res van die karakters in Die Boekklub is in Februarie terug.

Dis meer as drie jaar sedert kykNET-kykers die inwoners van Merweville met groot hartseer gegroet het, met die gedagte dat dit vir ewig sou wees. Ter viering van kykNET (DStv-kanaal 144) se 21ste verjaardag wag daar ’n groot bederf op kykers wanneer dié klomp terugkeer.

Die Boekklub 3 speel in 2024 af. Ná die afsterwe van ’n boekklub-lid keer Tom (Armand Aucamp) vir die begrafnis na Merweville terug.

Weens ’n sameloop van omstandighede besluit hy om langer in die dorp te vertoef. Dan herontdek hy die boekklub – én homself.

Aucamp is opgewonde oor die terugkeer van Die Boekklub: “Om nog ’n seisoen te kan aanpak, is werklik om na my tweede familie te kan terugkeer. Dit voel asof ek weer ‘tuis’ is.

Vasgevang

“Om weer in Tom se skoene te kan staan, maak my inniglik gelukkig. Ek weet die kykers gaan dieselfde voel!”

Louis Pretorius en Albert Snyman, die vervaardigers van die reeks, sê: “Die derde deel van Die Boekklub is ’n oomblik vasgevang in tyd.

“Die storie speel af oor drie maande op ’n tyd wanneer baie van die karakters voor ’n kruispad staan.

“Maar ten spyte van al die aanslae van die lewe ontdek en herontdek die karakters die mag van die liefde. Dit is ’n verhaal van hoop, waar die nag skynbaar op sy donkerste is, maar die son altyd deur die wolke breek en oor Merweville en sy mense skyn.”

Die Boekklub se vervaardiging geskied tans in Merwe­ville, Stellenbosch, die Strand en Somerset-Wes. Nina Swart behartig die regie. Pretorius en Snyman is ook die skrywers van die reeks.

  • Die Boekklub word in Februarie op kykNET (DStv se kanaal 144) uitgesaai word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters