2 maande gelede
Mannekoor sing al 25 jaar lank hul longe uit
MusiekManne: Die lede van die De Nova-koor is Aron Pietersen, Ivan Goedeman, Dawid Saron, Ismael Scheepers, Hendrik Prins, Frans Wiesie en Marthinus Pekeur.  ~ verskaf

DIE De Nova Mannekoor het op Sondag 31 Oktober sy 25ste bestaansjaar in ’n kerkdiens in die VGK Goudini in Rawsonville gevier.

Die koor is op 30 Oktober 1996 gestig en bestaan uit lede van die kerkkoor van dié gemeente.

Die stigter, Samuel Cuttings, is deur wyle Christiaan Amsterdam, destydse onderwyser en musiekman van Worcester, ondersteun.

Cuttings het die behoefte vir ’n mannekoor in sy woonbuurt, De Nova, gesien. En met hope sangtalent in sy gemeenskap was dit nie moeilik om die oorspronklike vyf lede hierby te betrek nie.

Die eerste lede van die koor het bestaan uit een sopraan, twee tenore, een alt en een bas – Samuel Cuttings, Frans Wiesie, Ivan Goedeman, Salmon Syster en Marthinus Pekeur.

Ontval

Frans het toe later die leisels by Cuttings oorgeneem.

Hul eerste optrede was in die VGK, waar die destydse dominee Adam Kotze hulle eers aan die gemeente bekendgestel het.

Daarna het hulle “The Lord is in His Holy Temple” gesing. In 1997 het Cuttings hulle ontval.

“Sy skielike heengaan was daardie ekstra motivering vir ons voortbestaan. Sodoende kon ons ook sy nalatenskap behou,” noem Frans.

“Vandag kyk ons terug met hope trots en dankbaarheid en ons erken die kragtige hand van God in alles wat ons tot dusver kon bemagtig. Al die eer aan Hom.”

Die De Nova Mannekoor se eerste album is in die laat 1990’s uitgereik – Magaliesburgse Aandlied.

Daarna het hulle twee CD-opnames uitgereik – “Wees My Leidsman” en “Neem Op Jou Bed”.

Die huidige lede is nou Frans Wiesie, Marthinus Pekeur, Ivan Goedeman, Aron Pietersen, Dawid Saron­, Hendrik Prins en Ismael Scheepers.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters