14 dae gelede
Loop hof met ‘Die Hof’ op jou kassie
Slaan wet: Adv. Suzie Gordon gaan sake inDie Hof behartig.  ~ Verskaf

VAN môre af kan ons hof loop saam met die briljante voormalige polisiespeurder en advokaat­ Suzie Gordon wanneer die program Die Hof op die kassie begin.

In die program stel twee partye hul sake aan die arbiter, waarna sy die gegewe bewyse opweeg en ’n regtens bindende besluit­ neem.

Die waarde van die geskille beloop nie meer as R20 000 nie. Daar is familielede wat baklei oor geld, ’n verdagte motorwerktuigkundige wat mense inloop en selfs twee plaasboere wat baklei oor die testikels van ’n bul!

Die arbiter is ook ’n gekwalifiseerde forensiese ondersoeker en verdedig al jare lank die buiteperd in arbeidsake.

Suzie bring haar passie vir reg en geregtigheid – en ’n fyn oog vir die waarheid – na ons TV-hof.

Klein

“Ons moet die gehalte van die howe verhoog en gewone mense aan die funksionering van die howe blootstel.”

Sy sê die regsproses is duur en Jan Alleman het nie altyd die geld om iemand agterna te sit wat hom skuld nie.

Die Hof skep dus ’n geleentheid vir die gewone mense op straat om hul klein eise na hierdie hof te verwys.

“Daar’s ook geen onnodige uitstel van sake nie,” sê Suzie.

Volgens Debby Schulman, vervaardiger van die program, is die lekkerste saak waaraan die span gewerk het, dié van twee vriende van Kaapstad.

“Die twee vriende was kwaad vir mekaar en het daarop aangedring dat hulle nie naby mekaar wil kom voordat die saak aangehoor word nie.

“Ons het toe die saak opgeneem en ná die tyd was dié twee weer hul ou selwers – lekker gelag en langs mekaar gesit op die vliegtuig huis toe!” vertel Debby.

Kykers landwyd kan ook met via video calls met hul regskwessies inbel om advies van die arbiter in te win.

  • Die Hof is van môreaand, 13 Oktober 2021, 20:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) te sien.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters