16 dae gelede
Lekker shows om te kyk
VOL EMOSIE: Simone Heradien is te sien in die show The Real Mrs. Muhammad.  ~ Foto Verskaf

DIE Suidoosterfees is om die draai en ons het ’n lys saamgestel van lekker shows wat jy nie moet misloop nie.

Die pandemie het die teaterbedryf hard getref. Kunstenaars het ’n inkomste en ’n platform vir hul kreatiwiteit verloor.

In die lig van dié uitdagings het die Suidoosterfees en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) hande gevat met die opwindende NATi-teaterfees.

Hier’s van die shows wat van 26 April tot 2 Mei by die Kunstekaap-teater in Kaapstad op die planke is as deel van 2021 se Suidoosterfees.

  • Kamp. Ferdinand Bekker se Kamp, met Deon Lotz en Brendon Daniels, handel oor twee manne wat alleen in die wildernis uitspan. Dinge begin skielik skeefloop. Gaerin Hauptfleisch is die regisseur.
  • Brandbaar is oorspronklik as Womb of Fire opgevoer. Dié stuk verweef die verhale van twee vroue in die Kaapkolonie se beginjare: Grote Katrijn van Pulicat, wat as slaaf in die Kaap aangekom het, asook die KhoeKhoe-diensmeisie Zara, wat aan die verkeerde kant van die VOC beland. Die vertaling is deur Jason Jacobs. Rehane Abrahams, die skrywer van die oorspronklike toneelstuk, speel saam met Lukhanyiso Skosana daarin.
  • Die Dinge van ’n Kind. Cintaine Schutte is Mart in dié werk deur Marita van der Vyver. François Toerien het die teks aangepas en Nicole Holm behartig die regie. Van der Vyver se roman het lesers aangegryp met temas soos grootword, swangerskap en selfmoord in die 1970’s toe politieke leuens en ’n grensoorlog in Suid-Afrika aan die orde van die dag was.
  • Swan Song. Volgens ’n oeroue bygeloof begin swane sing net voordat hulle sterf. Buhle Ngaba se Swan Song ontgin dié mite in ’n multidissiplinêre eenvrouvertoning. Dis die verhaal van ’n meisie met ’n gevleuelde bladbeen en haar stryd om in te pas by die wêreld.
  • The Real Mrs. Muhammad. In dié toneelstuk ondersoek die dramaturg Simone Heradien die komplekse verhouding tussen ’n praktiserende Pakistanse Moesliemman en sy Kaapse vrou, wat in niks glo nie. He­radien speel ook in dié show met Kurt Egelhof as regisseur.
  • Kaartjies is beskikbaar by Computicket en die pryse wissel van R70 tot R120.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters