2 maande gelede
Lekke’ lag Maandag!
sien uit: Schalk Bezuidenhout,is opgewonde om die gehoor te deel saam met opkomende komediante. foto’s verskaf  ~ 

JY MOET spring om kaartjies te kry vir die gewilde komedie-show Lag My Kla, waarin top-komediante Maandag 20:00 by die Suidoosterfees-inryteater gaan optree.

Staatmakers soos Schalk Bezuidenhout, Wynand Kotze en Dean Smith sluit hulle by die wenners van Son en kykNET se Lag My Kla-kompetisie en hul mentors aan vir ’n aand van skreeusnaakse vermaak.

Die show Lag My Kla is ’n uitvloeisel van dié kompetisie en mentorskapprogram waarin Shimmy Isaacs, Francois van As en Lunga Tshuka opkomende jong komediante onder hande geneem het.

Die wenners van vanjaar se kompetisie word aangekondig in die show, waar hulle ook die geleentheid kry om hul slag vir die eerste keer op die Suidoosterfees-verhoog te wys.

TikTok-sensasie

Dean Smith, Suidooster-sepiester, is die seremoniemeester. Dean se alter ego, aunty Bettie, wat gereeld vir opslae in die sosiale media sorg, maak ’n spesiale gasverskyning. Die TikTok-sensasie Wynand Kotze is ook daar om gehore te laat skater.

Shimmy Isaacs, een van die mentors vir die nuwe jong grapjasse, verduidelik hoekom lag die beste medisyne vir alle kwale is: “Uit tragedie kom komedie.

“As ons lekker lag, kry ons die gevoel dat ons ons omstandighede sur­vive het.”

Shimmy kan nie wag om die Lag My Kla-nuwelinge by die inryteater aan die publiek bekend te stel nie.

Kaartjies vir Lag My Kla op Maandag 8 November 20:00 by kykNET se Atlantic Studios kos van R250 tot R300 en kan by Computicket bespreek word.

Schalk sê hy is hoogs opgewonde om weer op die Lag My Kla-verhoog op te tree.

“Inrykomedie is een van die voordele wat die pandemie gebring het.

“Ons moes dink aan nuwe, cool, kreatiewe maniere om shows te doen, en verlede jaar se Lag My Kla-vertoning was so lekker.

“Ek is so opgewonde oor die Lag My Kla-finaliste wat gaan optree.

“Hulle is ons toekomstige Shimmys en Casper de Vriesies en Marc Lottering’tjies!

“Onthou ook, jy kan lekker lelik lag in jou kar, anders as in ’n teater!

“Sien julle daar, gaan kry julle kaartjies op Computicket.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters