3 dae gelede
Lekke’ Karoo-drive-in
KOM LUISTER: Coenie de Villiers en Deon Meyer bied hul gewilde Karoo Suite-produksies op vanjaar se Suidoosterfees aan.  ~ Foto Verskaf

JY KAN vanjaar Deon Meyer en Coenie de Villiers se gewilde Karoo Suite-produksies op die Suidoosterfees beleef.

Dit word beskryf as “die mooiste­ liefdesbrief aan die Karoo”. Dié tweeluik – Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte – moes in Desember 2020 uitgestel word, maar is nou op 30 April en 1 Mei 2021 vir Kapenaars by Atlantic Studios se drive-in ­beskore. Die uitstel was weens die tweede ­vlaag van Covid-19 landwyd.

Albei produksies word elke aand ten bate van die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram aangebied. Dis ’n double feature, soos in die drive-ins van ouds, kompleet met ’n pouse vir burgers en milkshakes.

Meyer vertel self die stories op die verhoog terwyl die ­legendariese Coenie de Villiers saam met ’n orkes vir ­musikale begeleiding sorg.

Die aanbieding word ­aangevul met lieflike foto’s en ­videomateriaal van die Karoo-landskap deur die National Geographic-span, Nasa en Meyer self.

Daar is ook animasiewerk deur Diek Grobler.

Meyer en De Villiers se talente­ sorg vir ’n gedugte kombinasie. Karoo Suite het gehore op verskeie feeste en in teaters in vervoering gehad. Dit het daarna landwyd ­uitverkoop.

Dié produksies verken die landskap van die Karoo, sy mense en hul vreugdes en pyn op ’n hartroerende wyse. Die musikante sluit in Mauritz Lotz op kitaar, Jaconell Mouton op klawers, David Klassen op tromme en perkussie en ­Coenie self agter die klavier.

Kaartjieverkope

Kaartjies vir motors met tot vier insittendes is teen R400 by Computicket verkrygbaar. Dit ­beteken feesgangers kan ’n Karoo Suite-produksie vir R100 per persoon sien.

Die opbrengs van hierdie kaartjieverkope sal aangewend word om die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel-stigting se liriekskryf-mentorskap­program met werksessies in die Karoo en in Kaapstad uit te brei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters