5 dae gelede
Langer wag nou nodig
TALENTVOL: Eden Classens (heel links), Christia Visser, Siv Ngesi, Francois Jacobs, Tracey-Lee Oliver en Schalk Bezuidenhout speel in die nuwe plaaslike fliek Kaalgat Karel.  ~ Foto Verskaf

DIE splinternuwe romantiese komedie Kaalgat Karel, wat op 24 September (Erfenisdag) uitgereik sou word, gaan die silwerdoek nou eers teen Valentynsnaweek tref.

Die vervaardigers Paul Egan en Meg Rickards (wat ook die regisseur is) moes dié moeilike besluit oor die fliek se uitreiking neem weens die huidige omstandighede rondom die verlammende corona-virus-pandemie.

Bederf

Die romantiese komedie sal nou eers volgende jaar op 12 Februarie landwyd in filmteaters begin draai.

Dit beloof om kykers te bederf met hope romanse, humor, sport en aksiebelaaide pret!

“Valentynsnaweek is een van die mees gesogte datums op die fliekteater-kalender en pas ons fliek soos ’n handskoen!” het Rickards opgewonde gesê.

Rickards en Egan vertel verder dat die film pragtig bymekaar kom en dat hulle nou in die laaste deel van ná-produksie is.

Kaalgat Karel vertel die verhaal van Karel Venter (Francois Jacobs), ’n kaalnaeler wat die ongewensde aandag geniet wat sy lostros-aksies by sportgeleenthede trek.

Hy raak halsoorkop verlief op die paramedikus Rita (Christia Visser), wat hom red nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop, maar daar is een probleem – sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie.

Komediant

Die skreeusnaakse ontmoeting tussen dié twee karakters skep die perfekte agtergrond vir dié romantiese komedie wat vroeër vanjaar in Oos-Londen verfilm is.

Ander geliefde akteurs wat in hierdie fliek te sien sal wees, is die komediant Schalk Bezuidenhout as Karel se vriend en kamermaat, Flip, Siv Ngesi as Vuyo, Karel se kaalnael-teenstander, die grapjas en sangeres Tracey-Lee Oliver as Rita se kollega, en Eden Classens as die glansryke plastiese chirurg Jean-Pierre du Toit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters