24 dae gelede
KYK: Video vereer vroue vir diens
WERK SAAM: Kunstenaars het ’n video bekendgestel waarin hulle vroue vereer met hul eie weergawe van Lucas Maree se lied “Die Weduwee se Kruik”.  ~ Foto Verskaf

KUNSTENAARS wat vanjaar optredes in Suidoosterfees-produksies weens die Covid-19-pandemie moes kanselleer, het hul talente saamgesnoer in ’n spesiale musiekvideo wat Suid-Afrikaanse vroue vir hul diens aan die gemeenskap vereer.

Akteurs en sangers het saam met die bekende digter Diana Ferrus aan die projek deelgeneem. Dit is vervaardig deur die Suidoosterfees en die Cape Town Music Academy (CTMA).

Cintaine Schutte, Buhle Ngaba, Nicole Holm, Babalwa Meintjies, Luna Paige, Lynelle Kenned en Jawaahier Petersen verskyn saam met twee inspirerende vroue, Naazneen Karriem en dr. Karienya Kasvalu, in die inspirerend video.

Karriem bedryf al ’n dekade lank ’n sopkombuis in Chapelstraat, Kaapstad. Sy kook elke dag vir behoeftiges uit haar wendyhuis op ’n lappie grond tussen twee nagskuilings.

Kasvalu is ’n voetsoldaat in die stryd teen die pandemie in ’n Kaapse hospitaal se noodeenheid.

In die video word Lucas Maree se lied “Die Weduwee se Kruik” gekombineer met ’n ode wat Ferrus geskryf het aan noodsaaklike werkers wat tydens die pandemie hoop en genesing in gemeenskappe bring. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters