15 dae gelede
KYK: Duo wikkel nou
GROOT DROOM: Lil LK en RJay tree by die Suidoosterfees in Kaapse Jol op.  ~ Gys Loubser

JAYRICKO “RJay” van Wyk het eendag net opgestaan en die hit “Wikkel Wikkel” geskryf.

Nadat hy sy gedeelte van die song geskryf en opgeneem het, sommer daar by sy huis in Wellington, het hy dit aan sy tjommies gestuur.

Sy tjommies Lethan “Lil LK” Fisher en Raygen “AG-B” Dirkse het toe daarna geluister en hul gedeeltes bygevoeg.

Sommer so in ’n kits is die hit gebore waarop ons almal so lekker jol. Die beat is deur DJ Zaylo geskep.

RJay verduidelik: “Kyk, lockdown het ons inspire om die song te maak.

“Almal het by die huis gesit en mense was konstant op die app TikTok.

“Toe dink ek dit sal lekker wees om ’n song te maak waar daar dans-moves in die lirieke is. ’n Song wat mense van verskillende ouderdomme gaan trek.

Die kunstenaars het nooit verwag dat hul song, wat al op talle groot radiostasies gespeel is, so ’n groot hit gaan word nie.

Droom

“Dit is ’n onbeskryflike gevoel om te weet jy het ’n song gemaak wat al nommer 1 in die Wes-Kaap was, asook nommer 1 op die radiostasie Good Hope FM gehaal het.

“Dit is lekker om te sien hoe die hele land en selfs mense in Namibië jou song geniet en op jou song dans en video’s maak.”

Laas week het die groot droom van RJay en LK, wat gereeld saam optree, waar geword.

Hulle het die verhoog met die sterre Loukmaan en Emo Adams in die produksie Kaapse Jol by die Suidoosterfees gedeel.

DUO: Lil LK (links) en RJay sê ons kan binnekort op hul nuwe song, “Maak Los”, dans. Foto: Abrie Burger

RJay vertel opgewonde: “Van kleintyd af sien ons dié manne (die Adams-broers) op die televisie. Om voorgestel te word deur Loukmaan, sjoe! Dis ’n droom wat waar geword het.”

RJay en LK sê hulle is vol bespreek vir die res van die jaar. Hulle verklap dat ons ook na ’n splinternuwe song, “Maak Los”, kan uitsien.

Passie

Die duo het ’n bemoedigende woord vir mense daar buite wat ook die musiekbedryf wil betree.

LK sê: “Volg jou hart. Om by jou drome uit te kom, moet jy doelwitte vir jouself stel.”

RJay voeg by: “As jy ’n passie het – dans, sing, rap – jaag dit na. Moenie dat enigeen in jou pad staan nie.”

So gepraat van dans – ons het van jou gunsteling-influencers soos Koekimema, Antie Meisie, Plaasnaar, Plaasnooi, Boeta Sallies en Jane van Wyk gekry om die #wikkelchallenge saam met RJay en LK te doen. Check dit uit: 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters