2 maande gelede
Kwaai stuk begin gou
Speurder: Reyka, gespeel deur Kim Engelbrecht, is warm op die spoor van ’n reeksmoordenaar.  ~ Verskaf

BINNE enkele dae gaan ons die briljante aktrise Kim Engelbrecht sien teen die dramatiese agtergrond van suikerrietlande, verstikkende hitte, gevaarlike natuurlewe en ’n misdadige onderwêreld waar sy ’n reeksmoordenaar probeer vastrek.

M-Net se wêreldklas-misdaaddrama Reyka, wat hier in Mzansi geskiet is, begin Sondag 20:00.

Die reeks se eerste episode het op 18 Junie op die 60ste Monte-Carlo Televisiefees in Monaco gepremière en gaste was gaande daaroor.

Dié kontemporêre reeks van agt episodes handel oor die flawed maar uitmuntende pro­filerReyka Gama, wat deur Kim Engelbrecht vertolk word.

Reyka se verlede spook by haar terwyl sy ’n string brutale moorde van ’n reeksmoordenaar in ’n suikerrietbos in KwaZulu-Natal­ ondersoek.

Die dinamiese veteraan­aktrise Anna-Mart van der Merwe­ (Binnelanders, Kanarie­, Poppie Nongena) vertolk die rol van Reyka se ma, Elsa.

Getraumatiseer

Op 27 April 1994 het die 11-jarige Reyka haar ma, wat ’n fotograaf is, na die verkiesing vergesel waar sy foto’s vir ’n plaaslike koerant moes neem.

In die groot opwinding en oproerigheid word Elsa se aandag afgetrek en haar dogter word ontvoer.

Dit kom later uit dat Angus Speelman, ’n plaasboer, Reyka ontvoer het. Die ontvoering het haar getraumatiseer, maar dit help haar ook om in die koppe van Afrika se grootste misdadigers te kom en hulle te uitoorlê.

Die sjarmante maar manipulerende Speelman het ná 20 jaar steeds ’n houvas op Reyka. Hy vorm ’n integrale deel van die ondersoek.

Son gesels later in die week met Kim oor haar karakter, Reyka, so wees die uitkyk daarvoor.

Rolverdeling

Dié misdaaddrama gaan ook op die DStv app en Catch Up beskikbaar gestel word.

Die res van die rolverdeling sluit in: Iain Glen, Thando Thabethe, Leeanda Reddy, Hamilton Dhlamini, Mavuso Simelane, Gerald Steyn, Nokuthula Mavuso, Kenneth Nkosi, Rashaan­ Stackling, Gabrielle De Gama (as jong Reyka), Fiona Ramsey, Ian Roberts­ en Desmond Dube.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters