18 dae gelede
Kunstenaar droom groot
WIL FAMOUS WEES: Wilmor Williams wil ’n groot kunstenaar word.  ~ Foto Verskaf

’N JONG kunstenaar van Malmesbury droom groot.

Wilmor Williams (26) beskryf homself as die plaaslike selfgemaakte kunstenaar van die dorp.

Williams vertel hy het op vyfjarige ouderdom al uitgevind dat hy ’n liefde en talent vir kuns het.

“Ek het twee ouer susters en sodra hulle ná skool by die huis gekom het, het ek altyd in hul rugsakke gekrap vir ’n blaai en potlood.”

Hy sê hy kon toe nooit ’n einde daaraan gekry het nie.

Williams sê weens omstandig­hede het hy nie die geleentheid gehad om ’n kunsskool by te woon of verder te gaan studeer nie, maar dit het hom nie laat ophou skilder nie.

Nadat hy in 2013 aan die Wesbank Sekondêre Skool gematrikuleer het, het sy vriend se pa vir hom verf gegee omdat hy poten­siaal in hom gesien het.

“Ek het borde gekry en skilderye geverf en my eerste een aan my hoërskoolhoof verkoop.

Brood

“So het ek aangegaan en dit baie begin geniet.

“Ek het sommer doeke gekoop en meer netjies begin skilder.”

Williams het oor die jare baie ervaring opgebou. Hy fokus baie op landskapskilderye en kleurvolle kunswerke uit die natuur.

Tans is sy grootste fokus muurskilderye wat sy brood en botter is. Hy spog met kunswerke wat hy al by verskeie skole in die dorp gedoen het.

Dié talentvolle kunstenaar is ook deesdae besig om T-shirts te kleur.

Hy skilder nie net met verfkwaste nie, maar ook met houtskool, potlode en verskillende kleure penne.

Williams sê sy grootste droom is om ’n bekende kunstenaar te wees sowel as om kunslesse aan ander te gee en sy ervaring te deel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters