26 dae gelede
Komedie is genesend
Lunga Tshuka
SKATERLAG: Lunga Tshuka ken van grappe vertel.  ~ Foto Verskaf

DIE komediant Lunga Tshuka glo onwrikbaar aan die genesende aspek van komedie en die goed wat dit jou geestesgesondheid doen.

Lunga, van Mitchells Plain, is nie net iemand wat jou kan laat skaterlag nie, hy is ook ’n suksesvolle entrepreneur as stigter van The Energizer Funny.

Wanneer hy nie die gehoor met grappe vermaak nie, doen Lunga ook Kyoku­shin-karate.

Hy boks nie soos daar voorheen berig is nie.

Lunga vertel dat hy sy SA klere in Kyokushin-karate verwerf het nadat hy in 2015 in die Wêreld­beker­toernooi vir Kyokushin-karate in Duitsland meegeding het.

Hy het ses jaar lank professioneel karate beoefen, maar deesdae doen hy dit net vir die pret.

“Ek het nog altyd ’n passie vir martial arts gehad toe ek grootgeword het.

“Toe ek hoor dat iemand Kyokushin-karate in my gemeenskap aanbied, het dit na ’n goeie idee geklink.

“Kyokushin vereis ’n gesonde­ leefstyl – geestelik en fisiek – en dít is wat my aangegryp het.”

Avonture

As dit by komedie kom, sê hy om ’n suksesvolle komediant te wees, moet jy net jouself wees en getrou aan jou kernwaardes bly.

“Jou snaaksste oomblikke kom uit die lewe wat jy leef en die avonture waarop jy was.”

Sy boodskap aan opkomende komediante is om komedie ’n kans te gee en die waters te toets.

“Jy sal nooit jou potensiaal ontdek as jy nie probeer nie.

“Dit is hoe die meeste komediante hul gawe­ gevind het. Wat as hulle nooit probeer het nie?”

Vir hom is dit ’n eer om deel te hê aan Son se Lag My Kla-kompetisie.

Hy wou nog altyd die geleentheid hê om opkomende komediante­ te lei.

“Mentorskap is baie belangrik.”

Lunga vertel verder hy het die voorreg gehad om leiding te kry van mense wat hul persoonlike handelsmerke, besighede en komedie ontwikkel.

Dis dus sy plig om só terug­ te gee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters