13 dae gelede
Ko’ vat ’n rytjie
TROTS: Leatitia Solomons se fliek, Rykie, is môreaand op die kassie.  ~ Foto Verskaf

“EK HET ’n stukkie van my hart gedeel.”

Só vertel die briljante filmmaker Leatitia Solomons van Stellenbosch.

Sy gesels trots oor haar movie, Rykie, wat môre op kyk­NET te sien gaan wees.

Julle sal die borrelende Leatitia van die Via-televisieprogram Leatitia se Taxi onthou, sowel as haar kortfilm Die Begrafnis, wat by die Silwerskermfees in 2019 op skou was. Die Begrafnis het ook later op die kassie verskyn.

Die filmmaker vertel dat sy die fliek tydens die grendeltydperk geskryf het. Dit vier die pragtige lewe en nalatenskap van haar oorlede ouma en oupa.

“Dit was ’n baie oorweldigende tyd in my lewe. Dit was Covid-tyd en dinge het uitmekaar geval. Ek het baie tyd gehad om te dink. Ek het baie aan my kinderdae en my ouma en oupa gedink.”

Leatitia vertel dat haar ouma en oupa twee wonderlike mense was en dat die gemeenskap hulle baie liefgehad het. Haar oupa het sy eie taxi-besigheid gehad en haar ouma het bankvas agter hom gestaan. Sy het hom ondersteun om ’n sukses van sy besigheid te maak.

Generasie

Sy vertel dis juis deur haar grootouers dat sy die geleentheid gegun is om die fliek Rykie op ’n plaas in Stellenbosch­ te skiet.

“Hul liefde vir hul gemeenskap was groot. Die verfilming van die fliek was gedurende lockdown en boere wou nie regtig mense op hul plase gehad het nie. Ek was gelukkig om ’n derde generasie op daai plaas te wees. Die boere het gesê ek kan maar die movie op hul plaas kom skiet. Dit het net weer die pad gewys wat my grootouers vir ons oopgetrap het.”

Rykie handel oor die verhaal van Katriena, ’n suksesvolle prokureur, wat weens ’n voorval vervreemd van haar familie geraak het.

Sy moet dan na haar familie op die plaas terugkeer toe daar weer ’n voorval is en dié keer moet sy ’n baie moeilike keuse maak. Sy moet tussen haar loopbaan en haar familie kies.

Die akteurs wat die rol van Leatitia se grootouers speel, is die veteraan-akteurs June van Merch en Royston Stoffels.

“Dit was vir my regtig baie lekker om saam met dié twee gesoute akteurs te werk. Dit het regtig gevoel asof ek saam met my kosbare ouma en oupa op stage is,” vertel die filmmaker.

Sy voeg by dat June haar aangenaam verras het om selfs haar ouma se bob-haarstyl na te maak.

“Dit was vir my so ’n spesiale oomblik toe June sê sy wil graag haar hare in ’n bob laat blow soos my ouma s’n. Sy het verduidelik dat sy nie graag hitte op haar hare gebruik nie omdat sy ’n sensitiewe kopvel het. Tog wou sy dit baie graag doen omdat die script so spesiaal vir haar was. Ek was op stel in trane. Dit was vir my só ’n mooi gebaar.”

Leatitia is ’n vrou van talle talente. Nie net is sy die skrywer, mede-regisseur en medevervaardiger nie. Sy vertolk ook die hoofrol van Katriena in Rykie. Die res van die rolverdeling sluit Amalia Uys, Brendon Daniels en Shimmy Isaacs in.

Fenomenaal

Die filmmaker spog met haar briljante span wat saam met haar aan die film gewerk het.

“Yor, my span was fenomenaal!” laat hoor sy. “Hulle het regtig alles ingesit. Timothy Swartz, my musiekvervaardiger, het ’n great­ job met die musiek gedoen.”

  • Rykie word môre van 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters