13 dae gelede
Kies uit ’n keur
VROUE: Ek, Evais by die op die planke.  ~ Foto Verskaf

TEATERKOPPE, hierdie een is vir julle!

Julle kan Saterdag en Sondag by Atlantic Studios in Montague Gardens ’n paar puik produksies op die Suidoosterfees sien.

Jong, opkomende skrywers en regisseurs het hierdie produksies geskep.

Die Jakes Gerwel-stigting en Kunstekaap-teater ondersteun die projek NATi Jong Sterre.

Hierdie uitnemende ontwikkelingsprojek staan opkomende kunstenaars by sodat hulle hul voete in die teaterbedryf kan vind.

Twee bekwame mentors, Amy Jephta en Rafiek Mammon, het die talentvolle jongelinge gehelp om hul tekste af te rond en vir die verhoog te verwerk.

Die Al Kind

Met Jill Levenberg, Oscar Petersen, Jurgen McEwan en David Viviers.

Teks: Herschelle Benjamin.

Datum en tyd: 21 November, 12:00.

Die Al Kind is die verhaal van ’n hardwerkende vrou wat as broodwinner die potte vir haar gesin aan die roer moet hou nadat die droogte in die streek haar man se werk geëis het.

Hul enigste seun, ’n student in Engeland, keer ná jare terug na sy ouerhuis. Wat gebeur as ouers al hul drome vir ’n beter lewe om hul geleerde kind bou?

Ek, Eva

Met Wahnice du Toit­, Robyn September, Brutney Singrew en Meggan Johnston.

Regie: Steph­ren Saayman.

Datum en tyd: 22 November, 12:00.

In die wenproduksie van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport se dramafees van 2019 word fisieke teater met ’n lieflike poëtiese aanslag gekombineer.

Opgang

Toe Eva se oë oopgaan, is sy en drie ander vroue in ’n plek waar die slang hulle met leuens teister. Wie gaan voor die serpent swig? Soos die maskers sak, word die donker waarheid onthul oor uitdagings wat vroue kwesbaar maak.

Saayman, ’n boorling van Riversdal, maak vinnig as akteur en teatermaker opgang.

Jessie, die Man en die Maan

Met Carlo Daniels.

Regie en teks: Kanya­ Viljoen.

Datum en tyd: 21 November, 15:30.

Van jongs af is Jessie oortuig die maan is ’n plek van misterie en verwondering. En dít, glo hy, is die plek waar hy eintlik moet woon.

Jessie se pa, AB, weet van sy seun se geboortedag af die kind gaan swaar dra aan dié droom.

En keer op keer, sy lewe lank, moet hy sy kind aan die maan afstaan.

Viljoen is besig met ’n meestersgraad in teaterkunde en het al ’n string toekennings ontvang.

Kaap

Met Lee-Ann van Rooi en Faith Kinniar.

Teks: Dianne Albertze.

Datum en tyd: 21 November, 19:00.

Geen heilige koeie word in Kaap ontsien nie: “ ’n Skrywer wort Kaap toe gestuu’ deur die Vrye Burgers Fees omme Cape Coloured storie te vitel. Sy storie ve’vleg met Angel, ’n voo’malige Voëlvry-groupie en Faatiem, ’n charming moeilikgeitmaker. ’n Gevaa’like magspieletjie ontstaan wannee’ Faatiem en die skrywer in love raak. Kyk uit vir die Kaapse Klopse, Kewpie en “Skipskop”, innie storie.”

Albertze is ’n boorling van Namakwaland. Sy het ’n Fleur du Cap-benoeming as mees belowende student agter haar naam.

Miela’s Box

Met Zenobia Kloppers, Gary Naidoo en Liandé Valentyn.

Regie: Rafiek Mammon.

Teks: Tasneem Daniels.

Datum en tyd: 22 November, 15:30.

Daar is drama in die huishouding van die Hendrickses van Woodstock. Miela, Salie en sy swanger vrou, Baby, stry oor wie die familiehuis moet erf.

Baby en Salie het planne om die huis vir hul nageslag op te knap, maar Miela, die eintlike eienaar, klou vas aan nostalgiese herinneringe. ’n Eg Kaapse drama wat feesgangers sal meevoer.

Slim Mense

Met Charlene le Roux, Steph­ren Saayman en Elmarie Johnson.

Regie: Mercy Kannemeyer.

Teks: Keanen Engel.

Datum en tyd: 22 November, 19:00.

Cathy is die gelowige matriarg van ’n Overbergse familie. Haar wêreld stort stelselmatig in duie nadat sy met die bonatuurlike behep raak. Die effek wat trauma, geloof en die verlede op mense het, staan sentraal in Engel se stuk.

Die feesproduksie Slim Mense verken die situasie van weerloses wat glad nie na hulleself kan omsien nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters