Verlede maand
Kassie-hof is nou hier
MEEDOËNLOOS: Adv. Suzie Gordon is Die Hof se arbiter.  ~ Foto Verskaf

SUKKEL jy om jou geldjies van jou bure, vriende of familie terug te kry?

KykNET & kie soek aansoeke vir Die Hof, sy nuwe arbitrasie-realiteitsreeks. So, as jy ’n geskil het om te besleg onder die waarde van R20 000, kan jy van jou laat hoor.

Het jou bure se hond jou gebyt, maar hulle wil nie vir die doktersrekening betaal nie?

Frustrasie

Is jou muur beskadig toe die bure hul boom afgekap het en nou wil hulle nie help regmaak nie? Sê jou oom nou dat dit nie ’n lening was nie en dat julle kastig saam ’n kans op daai resies gewaag het?

Dit kan tot groot frustrasie lei wanneer iemand jou geld skuld, maar weier om dit te betaal.

Prokureurs is nie goedkoop nie en om iemand hof toe te neem, kan veel duurder wees as die aanvanklike waarde van die bedrag wat jou toekom.

Dít is presies die rede waarom Suid-Afrika ’n hof vir klein eise het.

Ál die sake en betrokke mense is eg, al is die hofsaal ’n televisiestel en al word dié program in ’n ateljee opgeneem.

Wat dié program van ander hofdramas onderskei, is dat die uitsprake en besluite van die arbiter 100% regsbindend is.

Die Hof is onafhanklik van die hof vir klein eise, maar aanvaar dieselfde tipe­ sake en funksioneer volgens dieselfde beginsels. Daar is geen prokureurs nie.

Die betrokke partye lê hul eie bewyse en argumente voor. Hulle kan hul eie getuies ook inroep.

Die arbiter sal dan die ge­gewe bewyse opweeg en só ’n regsbindende besluit neem.

Die advokaat Suzie Gordon is Die Hof se arbiter. Sy is nie net ’n voormalige polisiespeurder nie, sy is ook ’n gekwalifiseerde forensiese ondersoeker.

Sy verdedig al vir jare die buiteperd in arbeidsake.

Suzie is bekend vir haar sinvolle en meedoënlose aanslag. Nou bring sy haar passie vir reg en geregtigheid en ’n oog vir die waarheid na ons TV-hof.

  • Om aansoek te doen, gaan na kyknettv.com. Aansoeke sluit op 20 Augustus. Die Hof is vanaf 6 Oktober op Woensdae 20:00 op die kassie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters