18 dae gelede
Jol saam in Kaapse styl
Stiek uit: Kaartjies vir die tweede aflewering van The Jive Culture Shock is reeds beskikbaar.  ~ Verskaf

JULLE, dit is amper weer tyd vir die unieke en gewilde Kaapse musiekproduksie The Jive Culture Shock.

Dié produksie waarin die Kaapse minstrels en Maleierkore sing en dans, is in November terug vir nóg ’n seisoen. Dié konsep wat die unieke klanke van minstrels en Maleierkore vier, is gedurende die Covid-19 lockdown in 2020 ge­bore.

Baie kunstenaars en tegnici se sak is geruk deur die pandemie toe live venues toegekap is. Vervaardigers het die geleentheid raakgesien om ’n veilige alternatief vir dié soort kulturele uitlewing te skep en sommer terselfdertyd werksgeleenthede te skep.

In vanjaar se produksie gaan ses spanne met mekaar meeding. Twee spanne sal ’n 20 minute lange teatervertoning in elk van die drie weeklikse episodes opvoer.

In die eindronde gaan al ses spanne ’n vertoning lewer in die meer tradisionele kompetisieformaat in die kategorieë English Comic and Nederlandse Lied.

Die wenners gaan gekies word deur ’n paneel onder wie Rushney Ferguson, Carlo Daniels, Felicia Lesch en Armien Vardien. Daar gaan ook elke week ’n gasbeoordelaar kom inloer.

Die vervaardigers van die musiekproduksie beoog om vanjaar deelnemers met vaardighede toe te rus wat hulle op die stage en elders kan gebruik.

Kaartjies

Die mentors wat die spanne gaan help om hul volle potensiaal te gebruik, is Tashreeq de Villiers, Kyle Stuurman en Sam Crouch. Die musiekregisseur Tauriq Blignaut en die band master Brett Edwards gaan aan bewind wees van die briljante groep van 10 lede.

Musiekliefhebbers kan nóú reeds hul kaartjies op Quicket bespreek as hulle die verfilming van dié kulturele musiekkompetisie wil bywoon.

Vanjaar se aflewerings word onder streng Covid-19-maatreëls in die Kunstekaap-teater verfilm.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters