18 dae gelede
Jephtas leef haar droom
Passievol: Die veelsydige kunstenaar Veronique Jephtas vertolk die rol van die wildbewaarder Meisie Abrahams in Keras.  ~ Verskaf

KERAS vertel die storie van ’n jong wildbewaarder wat moet kies tussen haar eie oorlewing en die lewe van ’n gewonde renoster nadat haar kollega en beste vriend haar in die rug gesteek het.

Die aktrise, skrywer en digter Veronique Jephtas vertolk die rol van die passievolle wildbewaarder in dié movie, Keras, wat Sondagaand 20:00 op fliekNET, DStv-kanaal 149, wys.

Veronique, ’n boorling van die Paarl, vertel sy lewe nou die droom waarvoor haar vierjarige self altyd gewens het.

“Ek was vier toe ek die eerste keer voor ’n gehoor staan. Dit was vir my amazing dat die mense vir my luister en hande klap. Ek het dié gevoel geniet.”

Sy het haar droom nagejaag en ’n BA-graad in drama- en teaterstudie, en later haar honneursgraad in kreatiewe skryfwerk verwerf.

Karakter

“Alles wat ek vandag doen, is dit wat ek nog altyd wou doen,” voeg sy by.

Die veelsydige kunstenaar stel ons voor aan haar nuwe karakter, Meisie Abrahams, in Keras.

“Ek speel die rol van Meisie, ’n jong game ranger. Sy moet kies tussen haarself en ’n gewonde renoster.

“Die storie draai letterlik om Meisie. Haar hart is op die regte plek en sy is verskriklik baie lief vir diere.

“Sy het ’n groot passie en liefde vir dit wat sy doen. Sy is ook ’n fenomenale tracker. Meisie is ongelooflik.”

Veronique wei uit oor een van die temas in Keras: “Die movie handel oor integriteit.

“Dit plaas ook die soeklig op renosterstropery.

“Die movie skep die spasie vir gesprekvoering rondom renosterstropery.

“My vriende sal nie noodwendig oor hierdie topic praat nie. Hulle sal veel eerder oor die nuutste single wil praat, maar hierdie movie gaan hulle hopelik aanmoedig om daai belangrike gesprek oor renosterstropery te begin.”

Kassie

Die skrywer van die boek Soe Rond Ommie Bos voeg by: “Dit is belangrik dat die gesprek aangaan en nie uitsterf nie sodat die awareness oor die probleem waarmee ons sit, die mens kan bybly.”

Sy nooi almal om Sondagaand voor die kassie te sit (mettie popcorn, natuurlik) en die spannende Keras te kyk.

“Dit is ietsie anders. Dié movie is regtigwaar vir almal. Almal sal dit kan geniet.

“Dit is ’n absoluut wonder­like span wat aan die projek gewerk het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters