12 dae gelede
’Is blomtyd
Host: Edrien Erasmus is die aanbieder van die realiteitsreeks Die Groenste Vingers. foto verskaf  ~ 

HET jy ’n hand met ’n plant? Of ken jy so iemand?

Mense kan nou aansoek doen om deel te neem aan kykNET se splinternuwe kompetisieprogram, Die Groenste Vingers.

In die program gaan twee tuiniers, blommerangskikkers en passievolle blom-entoesiaste met mekaar meeding om as Die Groenste Vingers-wenner gekroon te word!

Die een met die groenste vingers stap dan aan die einde van die kompetisie weg met R20 000 en ander groot pryse.

Met verskeie uitdagings moet elke deelnemer ’n unieke rangskikking ontwerp en aanmekaarsit, waarna die beoordelaars besluit watter deelnemer blom en watter deelnemer verlep. Hulle gaan kyk na ontwerp, kleur, balans en of ’n gekose tema suksesvol verbeeld is.

Philip Nolte, skepper van dié realiteitsprogram, verduidelik: “Dit is soos ’n kookkompetisie, maar met blomme!”

Hy het tydens die eerste inperking in 2020 met die idee opgekom om blommerangskikkings die held van ’n televisieprogram te maak.

“Dit was eintlik heel eenvoudig. Ek hou van mooi blomme en het gedink hoe ’n mens ruikers ’n bietjie meer dramaties kan maak.”

Die aktrise en sangeres Edrien Erasmus is die aanbieder van die program.

Mooiste

“Ek is van kleins af baie lief vir tuinmaak. Ek het ná universiteit in ’n blommewinkel gewerk en selfs my eie blommewinkel gehad.

“My ma het die mooiste tuin en sy en my pa het ’n kwekery in Botswana. Ek is nie altyd oortuig ek het groen vingers nie, maar ek is ’n blommekind en ek het vir seker ’n baie groot liefde vir ons wonderlike natuur.”

Franz Gräbe, van Franz Gräbe Flower Couture, is een van die beoordelaars. Hy het al vir Oprah Winfrey blommerangskikkings opgetower en modelle het in sy “blom-couture-uitrustings” op die loopplank gepryk. Van die bekendes wat al Gräbe se skeppings gedra het, sluit in Judith Sephuma, Minnie Dlamini en Brümilda van Rensburg.

  • Jy kan nou op kykNET.tv inskryf vir Die Groenste Vingers. Die sperdatum is 12 Februarie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters