Verlede maand
Hy saai hoop in sang
Bied vertroosting: Hilton Andries hoop sy song dra luisteraars deur die moeilike tyd van droefheid.  ~ Verskaf

“DIT is een van daai songs wat jou deur enige uitdaging dra en vertroosting bring, veral as jy iemand aan die dood afgestaan het.”

Dít is hoe die sanger Hilton Andries (37) van Cloetesville in Stellenbosch “Môre Sal Die Son Weer Skyn”, sy nuwe enkelsnit, beskryf.

Hilton is al 15 jaar in die musiekbedryf. Hy sê musiek het hom gekies. Hy sing al vanaf sy derde jaar en hy kom uit ’n kunssinnige familie wat lief is vir musiek.

Sy liefde vir musiek en teater het hom geïnspireer om ’n loopbaan in die kuns- en vermaakbedryf te volg.

Nadat hy in 2002 matrikuleer het, het hy omgewingstudies aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) gestudeer.

In sy tweede jaar, toe hy vir ’n oudisie genader is, het hy besluit om die vermaakbedryf eerder voltyds te betree.

Hy het toe as akteur begin werk en sy musiek opsy geskuif.

In 2017 het hy weer sy mic opgetel en oudisies vir die ATKV gedoen.

Dis toe dat hy sy pragtige song “Hier Is Ek” geskep het.

Dié song is ’n eerbetoon aan sy mammie, wat tóé aan Parkinson’s gely het.

Sy ma het ongelukkig in 2018 afgesterf en hy moes die swaarheid van al die angstigheid en depressie verwerk wat saam met die verlies van sy mammie gekom het.

Die sanger vertel dit is toe dat hy sy lied “Hier Is Ek” verwerk het en “Môre Sal Die Son Weer Skyn” geskep het.

Hilton sê hy hoop dat dié song mense deur dié moeilike tyd van verlies en droefheid sal dra.

“Ek bid dat die song hoop vir elke luisteraar sal bring wie se kruis soms te swaar word om te dra.”

Die song “Môre Sal Die Son Weer Skyn” is deur Melvin Wil­liams vervaardig en is tans op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters