Verlede maand
Hersh SA se trots
Trots: Herschel “Hersh” Snyders het onlangs sy EP Piece of Mind uitgegee.  ~ Verskaf

HY IS deur Apple Music geoormerk as een van die volgende groot kunstenaars wat Suid-Afrika gaan oplewer.

Herschel “Hersh” Snyders het sopas sy sielvolle EP Piece of Mind uitgereik.

Dit kom kort nadat die jong kunstenaar van Grassy Park by die musiekreus Sony Music geteken het.

Drome

Volgens Hersh het hy die EP – met nege songs daarop – geskep deur inspirasie te kry uit sy eie lewensondervin­dinge.

“Dit bevat die belangrikste dinge in die lewe, soos liefde, egtheid, drome en geleent­hede,” vertel hy.

Die R&B- en hip-hop-kunstenaar sê hierdie EP lê hom baie na aan die hart.

“Ek is so bly dat ek uiteindelik die projek kan wys waaraan ek so lank gewerk het.

“Ek wil regtig hê dat mense met hierdie een vibe.

“Die projek beteken baie vir my en dit verduidelik wie ek is.”

Hersh is onlangs uit nege ander kunstenaars aangewys as Apple Music se Up Next Artist.

Hierdie is ’n maandelikse program van Apple waar die stroomdiens die kollig laat val op opkomende talent in die musiekbedryf.

“Ek is trots en geërd om as Apple Music se Suid-Afrikaanse Up Next-kunstenaar gekies te word.

“Dit maak my bly om te weet ek doen dít waarvoor ek lief is en dat my musiek ’n relatable experience het om mense te laat voel.”

Die trotse Kapenaar is vasbeslote om altyd die lig op sy tuisstad se hidden gems te laat skyn.

“Ons het baie talent hier wat die mense nie altyd raaksien nie en ek wil dit showcase.

Ondersteun

“Ek wil hê ons moet hier in Kaapstad begin bou aan ons musiekbedryf sodat kunstenaars nie almal na Johannesburg gaan om daar te werk nie. Dis tyd dat kunstenaars in die Kaap ook erkenning kry.”

Dis om hierdie rede dat Hersh net twee features op sy album het en albei hierdie kunstenaars saam met wie hy gewerk het, is Kapenaars.

Die twee kunstenaars is KashCPT en Soulful Clay.

Julle kan Hersh ondersteun deur sy EP af te laai. Dis beskikbaar op alle digitale musiekplatforms, soos iTunes, Spotify en Google Play.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters