13 dae gelede
Hemelbesem kuier elders
Kuier saam: HemelBesem kuier more saam met Erns Grundling op Elders.  ~ Verskaf

DIE woordkunstenaar Simon Witbooi, oftewel HemelBesem, kuier vandag saam met die aanbieder Erns Grundling in die vierde seisoen van die Safta-bekroonde program Elders.

In dié episode ry Erns deur Outjo en Otjiwarongo onderweg na Windhoek, waar hy die hip-hopkunstenaar HemelBesem ontmoet. Saam besoek hulle die unieke gemeenskap in die dorp Rehoboth. Erns sê hierdie episode saam met HemelBesem is een van sy hoogtepunte van hierdie seisoen.

“Dit is baie moeilik, amper gevaarlik, om ’n hoogtepunt alleen uit te sonder,” vertel Erns.

“Die hele reis van 45 dae deur ons geliefde buurland was een aanhoudende hoogtepunt.

“Om saam met Simon Witbooi diep kultuurdinge te kon gesels in Rehoboth en hom daar te sien optree in die Congregational Kerk, was beslis ’n baie groot hoogtepunt.”

Dit is nie die eerste keer dat HemelBesem op Elders inloer nie. Erns sê hy het laas keer die rapper se geselskap so geniet dat hy hom eenvoudig weer móés nooi.

“Ons het so lekker gekuier in Genadendal in verlede jaar se Elders: Pelgrimstog van Hoop, en sy optrede in die geskiedkundige kerk in dié klein dorpie in die Overberg was so besonders dat ek hom baie graag by die Namibië-reeks wou betrek.

Voorsmakie

“Hy is ook ’n nasaat van die Nama-leier Hendrik Witbooi (!Nanseb), en ek wou graag ín Namibië meer daaroor met hom gesels.”

Erns gee ons so ’n voorsmakie van wat ons in vanaand se episode kan verwag.

“’n Heerlike kuier met die briljante HemelBesem in Rehoboth, vol gesprekke oor kultuur en herkoms en ’n optrede wat ’n mens hoendervleis gee.”

  • Elders is elke Woensdag 20:30 op DStv-kanaal 144.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters