18 dae gelede
Hekel saam vir liefde
BREI SAAM: Enigiemand kan aan die KKNK se ReWOLusie-projek deelneem.  ~ Foto Verskaf

HOEWEL die Klein Karoo ­Nasionale Kunstefees (KKNK) vir 2021 ook uitgestel is, kan almal in Suid-Afrika steeds ten bate van die ReWOLusie-projek brei.

ReWOLusie, ’n gemeenskapsinisiatief in Oudtshoorn, gaan van krag tot krag met twee opwindende vertakkings wat dié projek vanjaar vlerke gee. Benewens die bekende plaaslike hekel-en-brei-projek, kry ReWOLusie vanjaar ’n ­nasionale voetspoor danksy ’n hekel-saam-veldtog. Die projek is weer ’n vennoot van die filantroop Carolyn Steyn se 67 Blankets for Madiba-veldtog.

Die hele Suid-Afrika kan nou deelneem. Daar kan dus nou meer komberse as ooit wees wat warmte aan behoeftiges in die komende koue winter­maande kan gee.

Vlagskipprojek

“Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees is trots op die ­vennootskap met ReWOLusie as een van ons vlagskip­projekte,” sê Hugo Theart, ­artistieke direkteur van die KKNK. En dit is besonder opwindend dat die projek nie net in Oudtshoorn ’n verskil maak nie, maar ook nou nasionaal mense betrek.”

Volgens Madeleine Miles, die stigter en leier van die ­ReWOLusie-projek, is daar ­vanjaar twee maniere om by dié hekel-en-brei-projek betrokke te raak. “Oudtshoorniete kan weer soos in 2020 komberse hekel of brei wat aan behoeftiges in die plaaslike gemeenskap geskenk sal word.”

Enigiemand kan deelneem. Voltooide komberse kan by die KKNK-kantoor by Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, afgelewer word van waar dit aan behoeftiges versprei sal word.

“Tweedens is ons baie ­opgewonde dat ReWOLusie vanjaar ’n nasionale voetspoor met die hekel-saam-inisiatief kry,” sê Miles. Die Oudtshoorniet Bets Wilkinson het ’n patroon ontwerp vir hekelaars landwyd.

Maandag 3 Mei sal die KKNK begin om oor ’n tydperk van 13 weke elke Maandag ’n stukkie van dié kombers se patroon en ’n instruksie-video op die webblad kknk.co.za beskikbaar te stel.

“Aan die einde van die 13 weke sal elke deelnemer ’n volledige kombers hê,” sê Wilkinson. “Deelnemers kan hul komberse vir ’n liefdadigheidsveiling op Nasionale Vrouedag (9 Augustus 2021) skenk.

“Alle geld wat só ingesamel word, sal vir bemagtigingsprojekte onder vroue in Oudtshoorn ­gebruik word.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters