SY GROOT break in die bedryf het eindelik aangebreek.
Dít is hoe Jaydon Williams (23) van Atlantis voel oor sy rol in die gewildste Afrikaanse telenovela, Arendsvlei.
Eintlik het daar nie net een skip vir die talentvolle Weskusser ingekom nie, maar sommer twee.
Hy het ’n rol gekry in die nuwe SABC1-reeks Kingdom én ’n callback vir sy rol in Arendsvlei.
Ons het byna ’n week gelede kennis gemaak met Jaydon se karakter, Solomon “Sollie” Plaatjies.
Sollie dra trots die balkie as die nuwe hoofseun van die vooraanstaande Hoërskool Arendsvlei.
Die akteur sê nadat hy sy graad in toneelspel aan City Varsity voltooi het, het hy gefokus op sy loopbaan as rapper – veral omdat daar nie vir hom werk as akteur ingekom het nie.
“Die afgelope twee jaar was so wisselvallig, ek het maar my energie in my rapping ingeploeg.”
Danstalent
Ons het Jaydon so ’n bietjie gepols oor watter drama hoofseun Sollie na ons kassies gaan bring.
“Daar is twee kante aan Sollie. In die klas is hy ’n goeie seun; tussen sy vriende kan hy gesien word as iemand wat mense in die rug steek.”

NUUT: Sollie (Jaydon Williams) gesels met Mielies (Kaylene Bergstedt). Foto Verskaf
Son
Jaydon sê die lekker ding van sy rol as Sollie is dat hy ook sommer aan sy danstalent kan skaaf.
“Ek het nog laas in matriek gedans. Ek het klasse geneem daarvoor, maar moes ophou daarmee toe ek City Varsity toe is.
“Maar nou kan ek my dansopleiding aanwend en verder groei in die rol van Sollie.”
Jaydon sê sy hart brand om ’n kunsskool in sy gemeenskap oop te maak oor hy weet dit gaan kinders van die strate af hou.
“Ek het vir ’n kort rukkie kinders hier in Atlantis geleer. Ek weet die kunste kan ons kinders se mindset verander. Ek het gesien hoe hul attitudes verander.
“Hulle wou eers nie kunsklasse toe kom nie, maar agterna was hulle gretig.
“Die kunste help my om dinge anders te sien.
“Dít is wat ek aan die kinders in ons gemeenskappe wil oordra. Niks is onmoontlik nie. Ons kan ons wildste drome bereik.”
- Julle kan Jaydon ook Sondag 20:00 as Jonah in Kingdom sien.